DIE nuus dat die hospitium op Cradock gaan sluit, is met skok deur inwoners van die dorp ontvang.

Die instansie wat op 1 April 1997 sy deure oopgemaak het om kanker- en HIV-pasiënte en hul gesinne by te staan, kon weens finansiële probleme net nie verder voortgaan nie.

Volgens die bestuursraad het hulle vir ’n aantal jare al geen fondse van die departemente maatskaplike ontwikkeling en gesondheid ontvang nie. Dit is slegs die ondersteuning van ’n paar privaat donateurs wat in die laaste jare die deure oopgehou het.

“Ons het twee programme gehad, een vir volwassenes en een vir kinders. Slegs die kinderprogram kon voortgaan, danksy die hulp van donateurs, plaaslik sowel as in Amerika,” het ’n woordvoerder van die raad gesê.

Hierdie selfde ondersteuners het in 2015 ’n aparte saal met kombuis en badkamers vir die hospitium kinders (kinders wie se gesinne deur HIV geraak word), opgerig.

Die hospitium gee daagliks vir 56 kinders kos. ’n Verdere 159 kinders word gehelp met kos, klere asook hulle skoolwerk.

Vroeg in 2017 moes die bestuur bates van die hospitium verkoop om met die volwasse program te kon voortgaan. Later dieselfde jaar is ’n Lotto-skenking ontvang, wat gehelp het om die program vir ’n verdere twaalf maande te kon ondersteun.

In Julie 2018 was hulle verplig om personeel te verminder. Die versorgers wat HIV- en kankerpasiënte by hul huise besoek het, is afgelê en gevolglik was daar hierna geen palliatiewe sorg vir dié uiters siek pasiënte nie.

’n Donasie van Gold Rush is in Maart vanjaar ontvang, maar die raad het besluit om nie geld wat vir pasiënte geskenk word, vir kantooruitgawes aan te wend nie. Met geen hoop van toekomstige fondse nie, is besluit om die instansie se deure te sluit.

Die huis is reeds omskep in ’n koshuis vir skoolgaande meisies en daar is reeds ses van hulle wat saam met ’n matrone daar inwoon.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article