Rudi Swanepoel net ná die 2019 Comrades Marathon. Foto:VERSKAF


RUDI Swanepoel het hierdie jaar se Comrades Marathon tussen Durban en Pietermaritzburg vir die sewende keer voltooi.

Soos al die vorige kere het hy met ’n lekker hart gehardloop, want hy het weer geborgde myle vir Miles for Mercia gehardloop.

Toe hy sewe jaar gelede die Comrades wou hardloop, het hy gevoel hy moet hardloop om ’n goeie doel te ondersteun. Hy het nie ver gesoek nie, want hy het vir Mercia van der Vyver, ’n serebraal gestremde vrou geken en geweet van haar droom om Ierland te besoek.

Rudi en Mercia het mekaar destyds leer ken toe hy predikant op Bedford was en sy vrou, Carina, Mercia se fisioterapeut was.

So is Miles for Mercia gebore (2013) toe Rudi besluit om hierdie dapper jong, vrou se droom vir haar te bewaarheid.

Met ’n bedrag van R58 000 in die bank is Mercia en haar suster, Chrizette, vir nege dae Ierland toe.

Mercia het egter met nog ’n droom teruggekom en het gewonder of die projek nie maar kan voortgaan nie, want sy wou graag hierdie onbaatsugtige daad vorentoe betaal (“pay it forward”).

Spesifiek wou sy graag serebraal gestremde kinders help.

So is die nie-winsgewende organisasie Miles for Mercia op die been gebring en sedert die begin het hulle al meer as R500 000 ingesamel wat alles gegaan het om gestremde volwassenes sowel as kinders te bemagtig.

Gestremde sportspanne, soos Johannesburg se Boccia Bandits, is al in die verlede geborg. Hulle skenk verder ook aan verskillende inrigtings voorrade, soos looprame, rolstoele, spesiale skoene ensomeer.

Hulle ondersteun die volwasse gestremdes by Forest Farm in Johannesburg, en help gereeld die Aurora Versorgingsentrum in Port Elizabeth, asook die Andries Vosloo-hospitaal op Somerset-Oos en enkele gevalle waar die nood hoog is.

Vanjaar se doelwit tot einde van Junie is op R120 000 gestel en Mercia is baie opgewonde, want hulle het tot dusver al R117 000 ingesamel.

Sy is baie positief dat hulle die doel lag-lag gaan bereik.

Mercia se oë blink as sy oor die projek gesels. “Gestremdes hoor dikwels ‘jy kan nie . . .’ maar met Miles for Mercia wil ons juis bewys jy kán!’”

Stuur ’n e-pos na milesformercia@gmail.com of skakel Ronette by 083 505 7700 vir meer inligting.

Bydraes kan gaan aan:

Miles for Mercia NPO, Investec

Bankkode: 580105

Rekeningnommer: 50008769969

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article