DIE wolmark in Port Elizabeth het die week tydens sy 34ste en laaste veiling van die 2018/19 seisoen, onveranderd verhandel en die Cape Wools alle-wol-aanwyser het teen ’n skoonprys van R206.07/kg gesluit.
Die Australiese EMI het met 0.9% gestyg. Die Rand het hierdie week 0.6% sterker verhandel teen die Dollar ten tyde van die vei-ling, maar 0.4% swakker teen die Euro, ooreenstemmend dieselfde tyd van die vorige veiling.
Daar was ’n styging vandeesweek van 3.5%, in die 21.5 mikron segment. Goeie kwaliteit medium en fyner wol het hierdie week steeds goeie aandag getrek by kopers. Modiano het hierdie week die grootste hoeveelheid bale gekoop, gevolg deur Standard Wool, Tianyu SA en Stucken. Altesaam 12 437 bale is aangebied, waarvan 91.3% verkoop is. Op die OVK veiling is 4 134 bale aangebied, waarvan 92.7% verkoop is.
Vooruitsigte
Hierdie week het die wolmark die effense styging in Australiese mark nagevolg en onveranderd verhandel, ten spyte van ’n effense sterker Rand.
Die verbod op uitvoere na China speel egter steeds ’n groot rol en dit word weer- spieël in die traagheid in die verhandeling van veral korter wolle.
Alhoewel samesprekings tussen SA en China voortgaan, is daar steeds nie ’n oplossing gevind nie en die situasie kan nog onbepaald voortduur.
Produsente word daarom steeds aange-raai om, indien enigsins moontlik, hul skeerpatroon aan te pas en eerder ’n langer wol te skeer, aangesien wol van onder 65mm die grootste druk ondervind, omdat dit dié tipes is wat die meeste na China uitgevoer word.
In SA is wolontvangstes hierdie week 43% laer as dieselfde week van die vorige seisoen en ge-akkumuleerd, 13.56% minder as die 2017/18 seisoen.
’n Uitbraak van miltsiekte is in Lesotho bevestig, wat kwarantyn tot gevolg het en dus alle uitvoere van lewende hawe, vesel en vleis verbied.
Dit plaas die Lesotho produsente, wat reeds baie swaar kry, onder hernude ekonomiese druk.
Die eerste wolveiling van die nuwe wol-seisoen, is geskeduleer vir 14 Augustus 2019.
Die drie top pryse op die afgelope veiling van OVK/CMW is behaal deur:
1. Opperman & Seuns, Frankfort, vir ’n 2 baal lot BH van 18.8 mikron, met ’n skoonopbrengs van 80.94% en ’n vetwolprys van R185.00/kg. Die koper was New England Wool.
2. Opperman & Seuns, Frankfort, vir ’n 1 baal lot AH van 19.00 mikron, met ’n skoonopbrengs van 79.8% en ’n vetwolprys van R182.10/kg. Die koper was Modiano.
3. DC Malan, Volksrust, vir ’n 2 baal lot AH van 18.7 mikron, met ’n skoonopbrengs van 75.74% en ’n vetwolprys van R182.00/kg. Die koper was Standard Wool.
Wenke – Prosessering
- Maak seker dat veetroppe inge-ent is teen aansteeklike siektes soos miltsiekte, slenkdalkoors, ens.
- Sorg dus dat ’n geïntegreerde enting-en doseerprogram ten alle tye gevolg word. Gesonde en parasietvrye diere se immuniteit is hoër en bied dus beter weerstand teen siektes en voedingstres.
- Wintertyd is die beste tyd om diere te behandel, aangesien parasietladings dan baie laag tot heel dormant is. Wanneer diere dus met breë spektrum middels behandel word, verseker dit dat diere vir ’n lang periode sal parasietvry wees en maksimaal kan produseer.
- Dit is ook van belang om vroulike diere, wat met lewendige entstof ge-ent word, lank genoeg voor lenteparing te prosesseer, aangesien lewendige entstof koorsreaksies mag veroorsaak, wat kan lei tot steriliteit en aborsies.
- Dit is ook baie belangrik dat kuddes se voedingstatus, in terme van energie, minerale en vitamiene, op optimale vlakke moet wees, om te verseker dat immuunvlakke so hoog moontlik is.
V Inligting verskaf deur Heinrich Victor, Operasionele Bestuurder Vesel – OVK



