GROTER bedingingsmag tot voordeel van boere word verseker met die aankondiging van die samesmelting tussen die Suider Paarl Landbou Koöperasie en Die Koöperasie.

In sy 75ste bestaansjaar met 34 handelstakke en 18 spesialiteits-depots in Suid-Afrika, deel Die Koöperasie en Suider Paarl Koöp- erasie die unieke besigheidsmodel van ’n koöperasie.

Die eenparige besluit van Suider Paarl Koöperasie-lede om die vrywillige same-smelting te ondersteun, kan direk toegeskryf word aan die gedeelde waardes wat dié twee landboubesighede nastreef.

Volgens Derek Clift, voorsitter van die Suider Paarl Koöperasie se direksie, is hierdie strategiese besluit geneem tot voordeel van boere in die Wes-Kaap.

“Ons lede het nou toegang tot ’n wyer netwerk van produkte en dienste wat ingeligte besluitneming tot gevolg het.

“Daarteenoor is die sentrale stelsel van bedinging en operasionele bestuur ’n wyse besluit om sodoende oorhoofse kostes te minimaliseer – wat op sy beurt meer sente in die boer se sak beteken,” sê Clift.

Besighede word deel van groep

VGK Firearms in Parow en Komkyk Motors in Touwsrivier, is besighede wat reeds deel is van Die Koöperasie-groep.

Met die onlangse opening van ’n chemiese depot in Paarl en ’n vulstasie in Vredenburg, kan Die Koöperasie nou ’n veel groter voetspoor in die Wes-Kaap uittrap.

“Die wedersydse kundigheid kan beide lede-groepe van hulp wees,” sê Henk Agenbach, hoof-uitvoerende beampte van Die Koöperasie-Groep.

“In elke streek is kenmerkende landbou-bedrywighede.

“Maar tesame kan lidmaatskap uitgebrei word en die wyer verskeidenheid van dienste en ondervinding kan ook wedersyds tot voordeel van produsente aangewend word.”

Die samesmelting is effektief vanaf 1 Julie 2019 en alle bedrywe rondom Suider Paarl Koöperasie sal deur Die Koöperasie geadministrateer word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article