DIE Hoërskool Cradock se oudskoliere se onlangse fondsinsamelings het ongeveer R100 000 ingebring, waarvan ’n gedeelte gebruik gaan word vir sportbeurse en ondersteuning aan skoliere waar nodig.
Hierdie insamelings het uit vetvee bestaan en duiweveilings wat baie suksesvol was.
Vir die duiweveiling het Pieter Joubert 30 van sy goeie wedvlug-duiwe vir die skool “geleen” sodat hulle namens hul “kopers” aan ’n wedvlug kon deelneem.
Dié belangrike wedvlug het onlangs plaasgevind en Hilton Collett se ‘Brad Pitt’ was die wenner.
Hy het ook ’n vyfde plek met ‘Jennifer Anderson’ en ’n tiende plek met ‘Mr Bean’, behaal. In die tweede plek was Dessica Schonken se ‘Cyril’, gevolg deur Elida Ferreira se ‘Rambo’.
Sy het ook agtste plek met ‘Sea Biscuit’ geplaas.
Volgens Joubert, wat die duiwe by sy hok ingewag het, het net 36 sekondes verloop tussen die eerste sestien duiwe en was daar slegs een minuut en een sekonde tussen die eerste 24 duiwe wat ingekom het.
“So enigiemand kon gewen het,” het Joubert gesê.
Die Hoërskool Cradock het almal bedank vir die groot sukses wat hulle van die vee- en duiwe-veilings gemaak het.


