Tamaties groei in die stagnante rioolaanleg buite Cradock. Foto:WILNA DE KLERK


DIE DA hoop om die hulp van die Groen Skerpioene, die departement van omgewingsake, bosbou en visserye se omgewingsbe- stuursdirektoraat, in te roep om die benarde toestand van Cradock se riool-aanleg aan te pak.

Retief Odendaal, ’n lid van die Oos-Kaapse wetgewer en DA-leier in die Oos-Kaapse Middeland, het verlede Donderdag in ’n verkla-ring gesê die Inxuba Yethemba-munisipaliteit se rioolaanleg buite die dorp het in onbruik verval.

“Rioolafval vloei in die nie-funksionerende aanleg in en word dan onbehandeld na die Groot Visrivier gekanaliseer,” sê Odendaal.

Dit is die rede dat hy aan die Groen Skerpi-oene geskryf het en gevra het dat hulle ingryp.

Hy sê die meeste van die aanleg se pompe en borselbelugters is gedaan en die Chris Hani-distriksmunispaliteit, wat verantwoordelik is vir die behandeling van Inxuba Yethemba se afvalwater, het skynbaar nie die geld of vermoëns om die toedrag van sake te beredder nie.

“Die aanhoudende invloei van onbehandelde rioolwater in die rivier sal op die duur die water onbruikbaar maak vir besproeiing, om nie eens te praat van die gesondheid- en omgewingsgevare wat dit vir plaaslike gemeenskappe inhou nie,” het Odendaal in sy brief gesê.

Van die melkboere stroomaf van die aanleg se melk is al weens E.coli afgekeur en boere moet nou met boorgate spesiale voorsiening maak vir drinkwater vir die koeie wat voorheen in die groenigheid op die rivieroewer gewei het.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article