Anacadia Minnaar en Amahle Nyoba van Middelland Senior Sekondêre Skool in Midros op Middelburg, wat vir die Suid-Afrikaanse o.20-damesrugbyspan gekwalifiseer het. Foto:VERSKAF


TWEE rugbyspelers van die Middelland Senior Sekondêre Skool (MSSS) in Midros op Middelburg is in die finale groep van die top 26 spelers van die Suid-Afrikaanse o.20-damesrugbyspan opgeneem.

Anacadia Minnaar (gr. 12) en Amahle Nyoba (gr. 10) is die twee sterre van Midros wat hierdie besondere prestasie behaal het.

Die o.20-damesrugbyspan neem hierdie laaste week van Junie aan twee toetse in Harare in Zimbabwe deel. Die skool het Anacadia en Amahle alle voorspoed toegewens.

Damesrugby word reeds sedert 2000 by MSSS aangebied. Die Springbok 7’s rugbyspeler, Lorinda Brown, is tans die o.16- en o.18-afrigter by MSSS se damesrugby.

Brown, wat voorheen self ’n leerder aan MSSS was, het die afgelope paar jaar oorsee gaan toer as lid van die Suid-Afrikaanse 7’s damesrugbyspan.

Brown is tans aangestel as die leerder-ondersteuningsagent by MSSS.

Sy motiveer die meisies om hard te oefen om aan toernooie en kampe te kan gaan deelneem.

Brown was van 10 tot 14 Junie met ’n groep rugbyspelers van die Oostelike Provinsie by ’n voorbereidingskamp in Port Elizabeth, vanwaar hulle na Johannesburg vertrek het om van 15 tot 23 Junie aan ’n nasionale meisiesjeugweek, waar al nege provinsies teen mekaar gespeel het, deel te neem.

Vier ander dames van MSSS wat ook aan hierdie jeugweek deelgeneem het, is Johniricia Booysen en Christelene Abrahams vir die o.16-span, en Celine May en Venicia Joseph vir die o.18-span.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article