CRADOCK se ACVV het die afgelope week ’n vyf-jaar-lange droom verwesenlik nadat die vereniging ’n huis gekoop het wat omskep gaan word in ’n kinderhuis.

Volgens maatskaplike werker Carin van Rensburg, is hulle baie opgewonde oor die nuwe kinderhuis.

“Die huis by Durbanstraat 35 is ideaal geleë en voldoen aan ons behoeftes. Dit is baie netjies en al verbetering wat nodig is, is om ’n stort en toilet in een van die badkamers in te rig,” het sy gesê.

Volgens Van Rensburg was hul dienste as maatskaplike werkers ingeperk aangesien die naaste plek van veiligheid vir kinders in Port Elizabeth is. Hierdie instansie neem slegs kinders onder die ouderdom van 12 jaar in. Die behoefte in Cradock is egter vir kinders tot in hul tienerjare.

Van Rensburg het bevestig dat dwelmgebruik op Cradock ’n ernstige sosiale probleem is. Al die skole op die dorp word geteiken. Dwelmgebruikers sowel as -verkopers is hier aktief.

“Die Cradock-gemeenskap het hul harte en hande oopgemaak vir die kinderhuis-projek en die huis is byna ten volle gemeubileerd. Gordyne, beddegoed en kombuisware, ’n yskas en ’n stoof is reeds ontvang sowel as ’n sit- en eet- kamerstel,” het sy gesê.

Sy het ook bevestig dat ’n egpaar reeds aangewys is as inwonende toesighouers by die huis.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article