THEUNIS van Niekerk van Somerset-Oos se groot liefde vir motors – van toeka tot nou – word verklap deur die stapel CAR-motortydskrifte langs sy stoel in hul woonstel se sitkamer.
Theunis se seun, Hendrik, het ’n klas- sieke, tweedeur, rooi Moris Minor 1000 – vervaardig vanaf 1962 – aangeskaf en sy pa as sy oppasser aangestel.
Hy versorg dié goed opgepaste motor soos sy eie en neem die “ou dame” gereeld op uitstappies dorp toe en terug om seker te maak die 57-jarige lyf bly veerkragtig en sterk.
Theunis se eerste motor was ’n 1958 Morris Minor 850 en hy was versot op dié blou motortjie. Hy is in 1971 getroud en hy en sy vrou het in daardie stadium in Vanderbijlpark en sy skoonouers in Groblershoop gewoon.
Só het hulle baie kilometers tussen Vanderbijlpark en Groblershoop afgelê. Heen en weer was hierdie uitstappie 1 500 km. Petrol het 15c ’n gelling gekos en hy het die petroltenk vir R16 volgemaak. Hy het ge-middeld 15/16 km per liter gekry.
“Those were the days, en as ek 75 km per uur gery het, het skoonma van agter af ge-vra ‘ry jy nie te vinnig nie?’,” lag hy met die pyp in die mond. Sy motor is egter ’n jaar later afgeskryf toe ’n man oor ’n rooi verkeerslig in hom vasgery het.
Daarom is hy baie bly dat hy nou hier op sy oudag weer die voorreg het om in ’n Morris te kan ry.
Theunis sê die mense keer hom gereeld voor en vra om die blink rooietjie aan hulle te verkoop.


