DIE Sarah Baartman netbalspan het onlangs aan die o.19 nasionale kampioenskappe by die Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier deelgeneem.
Hulle het ’n algehele derde plek verwerf nadat hulle teen 12 spanne in die B2-afdeling gespeel het. Dit was die eerste keer dat hulle aan ’n nasionale kampioenskap deelgeneem het.
Daar was 39 spanne in vier afdelings en van al hierdie spelers is uiteindelik net twee in die o.19 SA Ontwikkelingsgroep opgeneem. Hulle is Lily Weyer-Schneider van Somerset-Oos en Yondre Jansen van Humansdorp. Hulle gaan vir die volgende twee jaar deur die top afrigters in Suid-Afrika geslyp word en ook wedstryde speel waarin die span Suid-Afrika verteenwoordig. Daar is sprake dat hulle bes moontlik die geleent-heid sal kry om vir die 2023 Wêreldbekerspan in aanmerking te kom.
Weyer-Schneider is baie opgewonde omdat sy gekies is en sien uit daarna om professionele afrigting te kry. Sy beoog om volgende jaar aan die Nelson Mandela Universiteit in Port Elizabeth te gaan studeer.
Die hoofafrigter van die Sarah Baartman netbalspan is Anina Vlok en die assistent-afrigter is Gaylon Louis.



