GOOD Shepherd Hospice vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar.
Te danke aan Suster Cathy Thomas wat 26 jaar gelede die visie gehad het om ’n instansie te vestig waar kanker- en later Vigs-pasiënte met die waardigheid wat hul verdien, versorg kan word, is Good Shepherd Hospice amptelik op 10 Junie 1994 gestig.
Namate Good Shepherd Hospice oor die jare ontwikkel en uitgebrei het, is satelliet-hospies op Cradock, Graaff-Reinet, De Aar, Burgersdorp, Steynsburg en Venterstad gevestig met Good Shepherd as die moeder-hospies.
Vanaf 2018 tot 2019 is 209 pasiënte deur die nege lede van die Good Shepherd Hospice-personeel in Middelburg versorg.
Daarbenewens bied hul ook mandjie- dienste aan Weeskinders en Kwesbare Kinders (OVC), asook weekliks toebroodjies en sap gedurende somermaande en sop gedurende die wintermaande aan die Volwasse Ondersteuningsgroepe en OVC groepe in Midros en Kwanonzame.
Vier jaar gelede het die Good Shepherd Hospice van Wilhelm Stahl Hospitaal na Smidstraat 79 verskuif. Danksy die finansieringshulp van die Nasionale Lotery kon hulle einde September 2018 ’n woning by Naudestraat 35, bekom en in kantore omskep.
GSH doen hiermee ’n beroep op die gemeenskap van Middelburg en omringende plase om die instansie in hierdie tyd van finansiële druk en onsekerheid by te staan en te ondersteun, hetsy deur finansiële hulp of enige skenkings.
’n Kattebakverkoping om fondse vir die Good Shepherd Hospice te genereer word einde Augustus gehou. Hulle sal enige bydraes soos komberse, huisware, klere, vars en nie-bederfbare produkte en enige skenkings hiervoor waardeer. Opvoedkundige speelgoed word ook vir die OVC program verwelkom.
Artikels en skenkings kan by die GSH kantoor by Naudestraat 35 afgelewer word Maandae tot Donderdae (08:00 – 16:00) en Vrydae tot 13:00. Kontakpersoon tydens kantoor-ure is Linda by 049 842 1231 en 082 964 9134/079 900 2453.


