Die Goeie Nuus Fabriek Gesinsbediening vanaf Pretoria het die afgelope week Graaff-Reinet besoek.

Die program het afgeskop met ’n ge-sinsdiens vir oud en jonk Sondag in die NG Groot Kerk.

Volgens Erich Posthumus van die Goeie Nuus Fabriek is gesinne tydens die diens aangemoedig om geloofstories met mekaar te deel. Die belangrike rol van oupas en oumas in familie is ook uitgelig.

Maandagoggend is skole besoek om leerders te help teen boeliegedrag. Eerste aan die beurt was die Laerskool Kroonvale. Altesame 900 leerders van 3 skole het die geleentheid bygewoon.

“Daar was baie pret. Die kinders het saam gesing en gedans en geleer hoe om boeliebestand te wees,” het Posthumus gesê.

“Hulle het geleer dat dié boodskap ’n lewenslange waarborg het omdat mense in elke vlak van hul lewe geboelie word. As jy van binne af kan boeliebestand wees, gaan buite omstandighede nie meer so baie saak maak nie.

“En jy is ’n oorwinnaar reeds voor jy in die stryd getree het, omdat jong mense leer om ’n sterk selfbeeld te hê en sterker as die boelies te wees,” het Posthumus gesê.

Daarna is Laerskool Ryneveldt besoek waar sowat 650 leerders tydens ’n buitelugbyeenkoms die boeliebestandsessie bygewoon het.

“Daar was ’n geleentheid vir boelies om oor die mikrofoon vir maats te kon jammer sê waar hulle foute gemaak het en vergifnis gevra het vir boeliegedrag. Boelies is vergewe daar op die plek en versoening het ingetree in die skool. ’n Klomp kinders het vanuit daardie gebaar besluit om jammer te sê en ander te vergewe. ’n Mens kon regtig sien dat daar ’n nuwe generasie vredemakers opgerig is,” het Posthumus gesê.

Dinsdagoggend het die Goeie Nuus Fabriek hul bediening na die Laer Volkskool geneem.

Ook op die bediening se program vir vandeesweek is die Graaff Reinet Glow Show by die Botaniese Gronde Saal (Montego se gebou) Vrydagaand.

Volgens Posthumus staan GLOW vir God Laat Ons Wen en is dit ’n geleentheid vir die hele gesin om “saam te gloei en hul liggie te laat skyn vir hul geloof”.

Kaartjies vir kinders is R30 en vir volwassenes is R50. Dit is vanaf 18:00 by die hek beskikbaar.

Die geleentheid sal om 20:30 eindig. Bring kontant vir glowprodukte en eetgoed.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article