DIE NG Kerk Cradock-Oos maak gereed om sy jaarlikse wynveiling op Vrydag, 2 Augustus om 18:30 by The Palms aan te bied.

Soos verlede jaar sal daar weer uitsoekwyne vir die fynproewer opgeveil word. Landgoedwyn van onder meer Boplaas, Van Loveren, Croydon, Muratie, Beyerskloof en Annandale sal te koop aangebied word. Daar is ook ’n paar bottels gesogte wyne van Annandale met die Springboklegende Hempies du Toit se handte-kening daarop.

Die spoggeleentheid is egter nie net vir die wynkenners en entoesiaste nie. Daar gaan gesellig saamgekuier en geëet word, want daar is ’n driegang maaltyd op die spyskaart. Kaartjies vir die geselligheid is R150 per persoon (ete ingesluit).

As voorgereg is daar ’n broodtafel met lewer- patee, sjokolade-truffles en bruschettas. Die hoofgereg is lamskenkel en kapokaartappel en die nagereg is sjokolade-mousse.

Die veiling is in die vorm van ’n “silent auction” sodat wynliefhebbers genoeg tyd het om die wyne te kan deursoek en ’n bod in te dien. Dit gaan gaste ook genoeg tyd gee vir lekker kuier, eet en dans.

  • Vir meer inligting oor die wynveiling bel ds. Jan Grobbelaar by 082 321 9080 of vir Carien Nel by die kerkkantoor 048 881 3457.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article