TERWYL die hele wêreld in 1969 ge-fokus was op die maanlanding, het ’n boervrou van Cradock ’n ander soort eerste groot tree gegee – om met ’n tuisnywerheid te begin.
Doreen Malan het ná ’n kuier by haar kinders in Ficksburg-distrik met dié idee teruggekeer huistoe. Haar skoondogter was deel van ’n tuisnywerheid wat vars en gebakte produkte verkoop het en dié besigheid het floreer.
Doreen, Thea Mulder, Anna Verster, Duif Verster, Marike Philps, Alet du Plessis en Delene Lombard het dadelik besluit om ’n soortgelyke besigheid aan te pak.
Op die yskoue wintersoggend van 9 Julie 1969 het hulle Dit en Dat se deure vir die publiek oopgemaak.
Sover bekend, is Dit en Dat een van die land se oudste tuisnywerhede.
Alhoewel die amptelike stigtingsdag 9 Julie 1969 is, het hulle vanjaar die tuisnywerheid se 50 jaar mylpaal op 19 Julie, heel gepas met ballonne en gebak, gevier.
Met die tuisnywerheid se opening in 1969 het mense glo vroeg op die winkel toegesak met koekblikke en mandjies. ’n Halfuur later was alles uitverkoop.
Destyds was Dit en Dat net op Vrydae oop en die vroue het al meer produkte begin lewer.
Terwyl die produkte van die rakke gevlieg het, het twee lede op primusstofies gestaan en pannekoek bak.
In die beginjare van Dit en Dat het ’n laagkoek 70c en ’n pond botter 35c gekos! Daar was dae wat die winkel tydelik gesluit moes word om kliënte in sarsies in te laat.
’n Vrag kool is sommer van die bakkie buite die winkel verkoop nog voor dit ingedra is.
Deur die jare het die winkel ’n paar keer verskuif. Hulle was aanvanklik in Frerestraat voor hulle na die hoek van Frere- en Durbanstrate getrek het. Hulle het in 1986 die huidige perseel betrek.
Vandag het Dit en Dat sewe permanente lede waarvan Nelie van der Meulen die voorsitter is.
Hulle lewer steeds plaasprodukte volgens die seisoen, gebak, ingelegde produkte, verjaarsdag-, trou- en laagkoeke, kaartjies, naaldwerk en breiwerk, heuning, water en sap.
In die jagseisoen is daar braaiwors, droëwors, biltong en bene.
Babette-blommewinkel en die Wolhoekie het intussen by Dit en Dat aangesluit. Dié besighede is op weeksdae oop tot 17:00 en op Saterdae tot 13:00.


