DIE Hoërskool Cradock se netbal- en rugby-uitblinkers het op Saterdag, 20 Julie in tuiswedstryde met Winterberg kragte gemeet.
Die rugbywedstryde was hoogs kompeterend, met CHS wat uiteinde-lik vier van die ses wedstryde gewen het. CHS se o.14’s het die dag afgeskop met ’n besonder mooi oorwinning van 16 -12.
Dit is gevolg deur oorwinnings vir die o.15B-span met 17-7 en die o.15A-span met 19-5. In die twee wedstryde wat gevolg het, het Winterberg ko-ning gekraai deur die o.16’s met 36-31 en die tweede span met 19-17 onderskeidelik te wen.
In die eerste-spanwedstryd het Winterberg teen ’n blitsige pas afgeskop; die buitesenter het in die eerste minuut deurgesuiker vir ’n goeie drie.
Die CHS-span was egter vasberade dat daar nie ’n herhaling van verlede jaar sou wees nie, en het kort daarna teruggeslaan met ’n mooi drie.
Dit het die telling op sewe punte elk te staan gebring. Die res van die eerste helfte het baie gelykop verloop, en belowende aanvalle van albei spanne is deurgaans gestuit deur uitstekende verdediging. Onverdoelde drieë deur albei spanne het die rustydtelling op 12-12 te staan gebring.
In die tweede helfte het CHS met al hoe groter selfvertroue gespeel en gaandeweg beheer oor die wedstryd geneem. Uitstekende samespel tussen voor- en agterspelers het gelei tot ’n verdere drie drieë vir die tuisspan.
Nie een van die drieë is verdoel nie. Winterberg kon slegs antwoord met ’n strafdoel, wat die eindtelling op 27-15 ten gunste van Cradock te staan gebring het.
Ses netbalspanne van CHS het op 20 Julie teen Winterberg op hul tuisbaan kragte gemeet. Al ses CHS spanne was aan die wenkant op die dag.
In die hoofwedstryd van die dag het CHS se eerstespan vir Winterberg met 27-17 geklop. CHS het ná die eerste kwart met 9-3 gelei. Winterberg het egter ’n goeie tweede kwart gespeel en die telling was 13-9 teen rustyd.
CHS het ná die derde kwart ’n voorsprong van 20-12 gehad. Dié goeie oorwinning was ’n ware spanpoging.
Die o.19B’s het 23-16 gewen en die o.16A- en B-spanne is steeds onoorwonne. Die o.16A-span het ’n gerieflike oorwinning van 29-15 behaal.
Die o.16B-span was ook heeltemal te sterk vir hul opponente en het met 34-5 geseëvier.
Die o.14A-span het met 6-4 gewen. Die o.16C-span het Volkskool se o.14B-span met 8-5 geklop.



