DIE Urquharthuis-museum in Graaff-Reinet het nie ’n aangename Julie beleef nie.
Vrydagoggend moes personeel ontdek dat ’n yskas gesteel is nadat diewe ’n antieke, gerestoureerde deur van ’n buitegebou oopgebreek het. Dit blyk dat ’n gat in die heining agter die museum as toegang gebruik is, aangesien die res van die perseel met ’n hoë muur en skerp tralieheining beveilig is.
Dit was die derde keer in Julie dat die museum onder diewe en vandale deurgeloop het. ’n Afleweringsfiets, mikrogolfoond, ver- warmer en breekware is tydens die eerste week in Julie gesteel.
“Ons vermoed dit is dieselfde oortreders wat terugkeer,” het museumdirekteur Anziske Kayster gesê.
“Hulle kry elke keer ’n nuwe manier om in te breek. Hulle is ook baie arrogant, want in middel Julie het hulle helder oordag die museum binnegestap, ’n snoeiskêr gevat en weer uitgeloop.”
Kayster het gesê sy het hulle gesien en teruggeroep, maar is uitgelag terwyl die oortreders die snoeiskêr uitdagend oop en toe gemaak en aangehou het om weg te loop. Die sekuriteitsmaatskappy is ontbied en was binne vyf minute op die toneel, maar die diewe was reeds weg.
Met die Mid-Karoo Express se besoek verlede Vrydag aan die Urquharthuis, was lede van die plaaslike polisie besig om vingerafdrukke op die misdaadtoneel te neem.
