THYSINA Hattingh (gebore Coetzer) is die afgelope week in Graaff-Reinet oorlede waar sy haar laaste jare deurgebring het.

Sy is op 4 November 1927 in Hofmeyr gebore, waar sy ook haar skoolloopbaan voltooi het. Sy is later jare met wyle Petrus Johannes (Piet) Hattingh ge-troud.

Thysina Hattingh (gebore Coetzer). Foto:VERSKAF

Die egpaar het hulle gevestig op Gannaleegte in die distrik. Hier het die Hattinghs vir baie jare in ’n klein hartebees-huisie, waarop Thysina so trots was, gewoon.

Later word daar op Gannaleegte vir haar ’n pragtige huis gebou, maar sy het gereeld nog gepraat van haar klein huisie so entjie verder weg.

Twee dogters, Helena Otto van Stellenbosch en Hanna Hattingh van Hartenbos, is uit die huwelik gebore.

Almal het Thysina geken as ’n vrou van haar woord, en ook ’n vrou wat haar woord gestand kon doen. Sy en haar man was bekendes in Hofmeyr se kringe.

Hy het op die kerkraad gedien, was op die bestuur van die boerevereniging (eers Doornhoek Boerevereniging waarvan hy gedurende 1958 een van die stigterslede was), en het later ook op die Hofmeyr Boere-unie gedien. Hy was ook voorsitter van die grondbewaringskomitee.

Thysina het hom bygestaan en sy kon met kleur en geur vertel van melkterte wat teen die spoed van witlig moes dorp toe vir een of ander komiteevergadering.

En sy kón melktert bak. Min vroue voor haar en min sal haar dit kan nadoen. Sy het graag vertel van ’n spesifieke melktert wat die dorp in duisend stukke bereik het en hoe kwaad sy vir haar man was wat so vinnig deur die driffie gejaag het.

Thysina het ’n insig gehad wat menigde jonger boervrou haar voor bewonder het.

Sy kon raad gee vir tuisgemaakte meubel- en vloerpolitoer, gif vir rys- en huismiere het sy sommer self gemaak, raad vir swak hanslammers, galsiek hoenders, ’n kuggie onder haar helpers en nog meer kon sy gee. Haar resepte het sy graag met elkeen ge-deel wat daarvoor ge-vra het.

Sy het ongetwyfeld ’n besliste mening gehad oor verskeie sake, en dit graag met almal gedeel.

Hofmeyr sal die Hattingh-egpaar onthou vir hul aandeel in baie vormende besluite wat deur die jare in die gemeenskap geneem is.

Nadat hul kleinseun plaas toe kon kom, het die egpaar na Cradock verhuis waar hul in die La Pineta-woonstelle gebly het.

Met haar man se heengaan het Thysina verhuis na Graaff-Reinet waar haar kleindogter Petru Alberts woon.

Thysina is die afgelope Saterdag ter ruste gelê langs haar man in die nismuur by Hofmeyr se NG Kerk, waar hulle saam diep spore getrap het.

Hofmeyr se mense betreur haar heengaan, maar gun haar die ewige rus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article