ROWERS het met etlike duisende rande op die vlug geslaan nadat hulle Saterdag die poskan-toor op Hofmeyr beroof het.
’n Personeellid, Noxolo Staal, is tydens die roof oorrompel, maar nie beseer nie.
’n Werknemer van die OVK, Gloria Yangapi (43) wat haar DStv-rekening by die poskantoor wou betaal, het op Staal afgekom. Met Yangapi se aankoms by die poskantoor was die deur toe en heelwat mense het reeds gewag en aange-neem dit is nog gesluit. Yangapi het intussen na ander winkels gegaan om aankope te doen voor haar skof by die OVK begin. Met haar terugkeer was die poskantoor se deur steeds toe en sy het op die ingewing van die oomblik die veiligheidshek geskouer en dit het oopgegaan. Daarna het sy die houtdeur se knop draai en ingestap.
Volgens Yangapi was dit donker en stil in die poskantoor en sy het na Staal, wat die toonbank beman, geroep. Staal het haar vanuit ’n stoorkamer geantwoord en gevra om die polisie te ontbied. Volgens Staal het drie mans, wat in ’n silwergrys Toyota Yaris gery het, die poskantoor beroof.
Die polisie-ondersoek het vandeesweek voortgeduur. Teen Mid-Karoo Express se druktyd gister is niemand nog in verband met die roof in hegtenis geneem nie.



