CRADOCK ACVV se geldnood van die afgelope nege maande is ietwat verlig.

Dit volg nadat die afgelope twee kwartale se salarisse en toelaes van die vereniging se werkers onlangs deur die departement van maatskaplike ontwikkeling betaal is.

Teen middel Julie het die departement die Cradock ACVV ’n bedrag van R153 176 geskuld. Dié bedrag het sedert Oktober verlede jaar opgehoop.

Lynn Williams van Netwerk24 het ver- lede Vrydag in Die Burger (Oos-Kaap) berig dat siek en weerlose senior burgers sowel as kinders in die Oos-Kaap, verhongering in die gesig staar. Daarby kan maatskaplike werkers hul werk verloor, omdat die departement van maatskaplike ontwikkeling versuim om staatsubsidies aan talle organisasies sonder winsbejag te betaal.

Die meeste van dié organisasies het vier maande laas geld ontvang.

Al die organisasies het al menige keer, sonder enige sukses, by die department antwoorde probeer kry.

Die organisasies sê as dinge nie gou verander nie, loop hulle die gevaar om hul deure te moet sluit.

Gcobani Muswana, woordvoerder van die departement, het by navraag gesê hulle is bewus van die probleem en gee aandag daaraan.

Volgens Muswana kan die organisasies wat nog nie hul geld gekry het nie teen vandeesweek al die agterstallige geld verwag.

Hy het die probleem met die betalings aan ’n nuwe betalingstelsel, wat strenger beheermaatreëls het, toegeskryf.

“Ons weet die organisasies is gefrustreerd. Dit is nie vir ons ’n lekker gevoel om te weet waardeur hulle gaan nie, maar hulle word (volgende week) betaal,” het Muswana belowe.

Mid-Karoo Express se Cradock-korrespondent, Wilna de Klerk, berig dat die ACVV op die dorp se maatskaplike werker, sowel as ’n assistent die afgelope nege maande geen salaris ontvang het nie. Teen einde Junie, was geen van die personeel by die Cradock-kantoor se salarisse inbetaal nie, maar hul het vandeesweek eindelik geld ontvang.

Ten spyte van al hierdie probleme is die maatskaplike werkers en die res van die kantoorpersoneel elke dag op hulle pos.

Statistiek vanaf Oktober 2018 tot op hede toon dat dié ACVV-tak: 25 programme gedoen het; in kontak was met 2 526 mense; verantwoordelik was dat 13 kinderhof aansoeke suksesvol afgehandel is; en dat 92 nuwe gevalle gedurende die tydperk aangemeld is.

Dit is ’n bewys van die belangrike diens wat die ACVV se maatskaplike werkers in die gemeenskap lewer.

Die ACVV-voertuig waarmee hulle daagliks gevalle in Cradock, Michausdal, Lingelihle en in die distrik moet besoek, is buite werking. Maatskaplike werkers moet met hul eie voertuie dié gevalle besoek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article