WIE kry, en wie kry nie?

Dít is die vraag op die lippe van duisende voorheen bena-deelde staatsdienswerkers nadat daar sedert Maart vanjaar skielik groot bedrae pensioenregstellings op lukrake wyse aan sommige voormalige staatsdienswerkers uitbetaal is.

Dié betalings is deur die staatsdiens se koördinerende bedingingsraad (PSCBC) geprosesseer en deur die staats- dienspensioenfonds (GEPF) uitbetaal.

Volgens resolusie 7 van 1998 van die PSCBC sou die staat regstellings maak om te vergoed vir diskriminasie tydens Apartheidsjare, wat tot gevolg gehad het dat swart en bruin staats- dienswerkers nie dieselfde voordele as blanke kollegas ontvang het nie.

Noudat daar (21 jaar ná 1998) uiteindelik betalings gemaak is, heers daar groot ongelukkig-heid onder voormalige staats- dienswerkers omdat die PSCBC nie eenvormige kriteria aan die dag gelê het toe uitbetalings gemaak is nie.

Nadat die nuus oor betalings wat ontvang is soos ’n veldbrand versprei het, is die Civil Servants Pension Redress Movement (CSPRM) op 23 Mei 2019 in Swellendam gestig. Addisionele takke het daarna landwyd soos paddastoele opgespring om hulle gewig agter dié beweging te gooi.

Die CSPRM het intussen ’n klag by die Menseregtekommissie ingedien en beoog om die PSCBC onder andere voor stok te kry omdat die meeste staatsdiensamptenare nie eens bewus was van die regstelling waarvoor aansoek gedoen kon word nie.

Volgens Frikkie de Bruin, algemene sekretaris van die PSCBC, moes aansoeke vir die pensioenregstellingsproses vóór 31 Julie 2012 ingedien gewees het, maar die CSPRM eis dat dié proses weer oopgestel moet word.

Donald Smiles, interim voorsitter van die Middelburgtak van die CSPRM, meen dat die uitbetalingskriteria wat deur die PSCBC aan die dag gelê is, uiters verdag voorkom.

“Hoe verklaar mens dat twee staatsdienswerkers wat dieselfde aantal jare diens gedoen het by dieselfde staatsdepartement, verskillende bedrae vir regstelling ontvang het, terwyl ’n derde staatsdienswerker sommer geen vergoeding ontvang het nie?

“Afgetrede staatsdienswerkers wat kwalifiseer vir vergoeding op grond van Apartheidsdiskriminasie is nie net onderwysers nie, maar ook onder andere gesondheidswerkers, soldate, padwerkers, Spoornetwerknemers en amptenare van die departement van landbou.

“Min mense het van die proses geweet, en min van dié wat wel betyds aansoek gedoen het, se aansoeke was geslaag.”

Volgens Smiles word daar ook geen redes verskaf aan voormalige staatsdienswerkers wie se aansoeke nie geslaagd was nie, en die PSCBC se webtuiste is van geen hulp.

Pastoor Jan Bergoor, wat vantevore ’n assistentbeampte by Grootfontein Landboukollege was, is een van honderde staatsdienswerkers in Middelburg wat nooit van die PSCBC terugvoer ontvang het dat hy wel kwalifiseer, maar enkele dokumente nog moet aanstuur nie.

“Die GEPF het by navraag net hul skouers opgetrek en vir my gesê ek móés ‘n brief daaroor ontvang het.”

James Plaag, ’n voormalige werker by die plaaslike staats-hospitaal, sê dat sowat 90 aansoekvorms van die hospitaal af direk in Bisho by die departement van gesondheid ingedien is vóór die 2012 afsnydatum, maar dat geen haan weer daarna gekraai het nie.

“Die prosesse wat die GEPF en PSCBC gevolg het, is ’n skending van klousule 33 van ons land se konstitusie,” meen Smiles. “Hierdie administrasie van voorheen benadeeldes se regstellingsfonds was geensins regmatig, redelik of prosedureel billik hanteer nie.”

Die CSPRM sal van 18-20 Oktober vanjaar ’n nasionale konvensie hou in Belhar, waartydens hul grondwet aanvaar sal word en op verdere aksies besluit sal word ten einde die regstellingsproses regverdig te laat geskied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article