OMDAT Erica Bezuidenhout een Sondag in die kerk geluister het na ’n stemmetjie wat met haar praat, kon sy en haar vriendin, Andrea Visagie, ’n ruim bydrae tot die Cradock ACVV se kinderhuisprojek maak.
Erica vertel dat sy gedink het om ’n bydrae te maak deur ’n “klein” teetjie aan te bied. Na die ondervinding in die kerk, terwyl Carin van Rensburg van die ACVV besig was om te vertel van die beoogde kinderhuis, het haar droom skielik baie groter geword.
Nadat sy haar vriendin, Andrea, vertel het dat haar droom nou in ’n fees vir die kinderhuis verander het, het die beplanning begin. Die eerste taak was om ’n geleentheidspreker te kry en Hykie Berg was die eerste en suksesvolle keuse.
Die geleentheid het nog ’n keer van formaat verander, dié keer in ’n vroue verrykingsfees vir alle vroue van die dorp. Kaartjies na Hykie Berg se praatjie saam met ’n oggend-teeparty het gou uitverkoop.
Op die ou end was daar 32 verskillende stalletjies van trekkers tot parfuum, Zumba-oefeninge tot ’n springkasteel.
Erica en Andrea is baie dank verskuldig aan Status Toyota wat Hykie op Port Elizabeth lughawe gaan haal en hom weer teruggeneem het sowel as aan Amali-gastehuis wat vir hom ver-blyf verskaf het. Hulle bedank ook al hul ander ondersteuners wat deel gehad het aan die sukses van die dag.
Die vroue het verlede Donderdag ’n tjek van R40 000 aan die ACVV oorhandig vir hul kinderhuisprojek.
En, hulle daag besighede in Cradock en selfs omliggende dorpe uit, om hul projek te oortref




