KOMMER heers oor die wyse waarop die R10 miljoen droogte- hulp gespandeer is, wat Chris Hani distriks-munisipaliteit in Desember 2018 vir Middelburg bewillig het.
Chris Hani distriksmunisipaliteit raadslid Robbie Venske het onthul dat een van die nuwe boorgate wat drinkwater aan die Midros reservoir moet verskaf, op die wal van die Brak- rivier geboor is. Dit is reg stroom-af van massiewe rou rioollekkasies wat tans in die rivier invloei.
Verskeie rioolpompstasies werk nie meer nie en rou riool vanuit die dorp, KwaNonzame, Lusaka en Midros bereik nooit die rioolwerke nie. Duisende liters per sekonde van dié riool stroom in die rivierloop af.
Mid-Karoo Express beskik oor foto’s van verskeie pompstasies waar die rioolwater uitborrel en van onbedekte rioolgate wat ’n gevaar inhou vir mens en dier wat daarin sou val.
In Midros, aan die onderpunt van Mandelaweg, is ’n afvoersloot van nagenoeg ses meter diep om riool- en stormwater direk na die Brakrivier te lei. Dié sloot begin minder as ’n meter weg van die laaste huis in dié straat. Die bejaarde eienaar van dié huis is baie bekommerd oor die uitwerking van die riool in die oop sloot en die gesondheidsrisiko daarvan. Sy sê dat kinders “kort-kort onverklaarbaar koors kry.”
Verlore stryd teen
vandalisme
By die rioolwerke voer die Red Alert sekuriteitsmaat- skappy ’n verlore stryd teen vandalisme. Daar is bedags een en snags twee wagte aan diens. Selfs die geëlektrifiseerde heining is gevandaliseer. Die gebrek aan veiligheid het daartoe gelei dat elektriese kabels van pompe onlangs gesteel is.
Sedert Mid-Karoo Express in Augustus 2018 hieroor berig het, het die omvang van die riool- lekkasies drasties vererger.
“Dit ís nou ’n ramp,” sê Venske.
“Dis verskriklik om die totale watervermorsing en rioolbesoedeling te sien wat hier plaasvind. Dit terwyl inwoners letterlik enkele meters van rou riool moet leef.”
Volgens hom is die tegniese departement van Chris Hani distriksmunisipaliteit se hande afgekap omdat CHDM geen materiaal vir onderhoud of addisionele mannekrag verskaf nie.
“Huise is in Lusaka opgerig en aan die watersisteem gekoppel sonder enige stopkrane. Dit is gedoen terwyl die dorp tans swaar gebukkend gaan onder ernstige watertekorte,” sê Venske.



