’n TWEEDEHANDSE meubelonderneming in Middelburg het Maandagmiddag onder gewapende rowers deurgeloop.
Vier mans het Park’s New and Secondhand Shop, oorkant die munisipale kantore in Richmondweg, omstreeks 13:15 binne-gestap en die eienaar, Maria Correia (70), met ’n pistool in die gesig geslaan en haar geskop. Daarna het hulle haar na die kombuis agter in die winkel geneem.
Intussen het die winkelassistent, Leonie Froneman, van haar etensuur teruggekeer.
“Toe ek die winkel binnestap het ek ’n paniekerige, onderdrukte geskree gehoor. Ek’t dadelik omgeswaai om uit te hardloop, maar my vasgeloop in ’n rower wat my met ’n pistool teen die keel gedreig het,” sê Froneman.
“Hy het my op ’n bed gegooi en gesê ek moet ophou skree en toe vat hy my ook na die kombuis toe.”
Froneman het opgemerk dat die rowers Correia baie hard geslaan en seergemaak het. Die rowers het die twee vroue met maskeerband en kabelbinders vasgebind en Correia se mond ook toegestop.
“Hulle het in Engels en ’n vreemde taal, wat nie soos Xhosa klink nie, met mekaar gepraat en vir Maria gevra ‘Where’s the money?’
“Die mans het my uitgelos, want ek het voorgegee dat ek my bewussyn verloor het. Toe hulle uitgaan, het ek vir Maria gefluister om te kalmeer, want dan sou hulle ons uitlos.
“Kort hierna het ek die winkelklokkie twee keer hoor lui en toe ’n harde slag gehoor. Dit was twee kliënte wat die winkel binnegekom het en toe ook oorrompel en vasgebind is.”
Volgens Froneman het die rowers pro-beer om die kluis te verwyder, maar nie verder as die ingang van die winkel gevorder nie.
Hierna het hulle te voet op die vlug ge-slaan met die geslotebaankamera se opnemer in hul besit en R900 wat hulle van een van die kliënte gevat het. Froneman het na ’n lessenaar in die winkel gekruip waar sy ’n laai met haar mond oopgetrek het en die winkelalarm met ’n motorsleutel geaktiveer het.
“Ek’t toe uit die winkel gekruip en ge-skree. Mense het ons te hulp gesnel,” het Froneman gesê.
Haar man, Koch, ’n aanklaer op die dorp en hul sewejarige seuntjie, het hulle byna ook in die rowers vasgeloop.
Hulle was tydens die rooftog in die winkel, maar het nie vir Froneman gesien nie en aangeneem sy is nog nie terug van haar etensuur nie.
Koch sê hy het vir hul seun gesê: ‘Kom, mamma is nie hier nie.
“Uit die hoek van my oog het ek iemand in die winkel gesien, maar nie regtig opge-let nie, want daar is heeldag mense in die winkel. Dié man se rug was op my gedraai. Nooit het ek geweet dat Leonie en Maria toe reeds vasgebind in die kombuis was nie.”
- Die polisie het die voorval bevestig en ’n saak van besigheidsroof is geopen. Die publiek wat die voorval sien gebeur het of oor enige inligting oor die roof beskik, word versoek om die Middelburg polisie by 082 414 8413 te bel sodat alle moontlike leidrade opgevolg kan word.


