WOONSTELLE van Inxuba Yethemba–munisipaliteit in Cawoodstraat op Cradock kry in die laaste tyd nie groot aftrek nie en baie staan leeg.
Volgens Ray Shweni, burgemeester, is dié probleem te wyte aan die feit dat werk skaars is op die dorp. Ook omdat personeel van die gevang-enisdiens verblyf kry op die gevang-enisdiens se terrein.
Die munisipaliteit het twee jaar gelede tydens hul begroting, die huur vir hierdie woonstelle met 60% verhoog.
Booswigte neem intrek
Die woonstelle wat leeg staan is ’n trekpleister vir booswigte en hulle teenwoordigheid het veroorsaak dat een van die gesinne wat nog daar gewoon het, verlede Vrydag na ’n ander plek getrek het.
Hulle kon nie langer die teenwoordigheid van ses booswigte, wat hulle by die woonstelle tuisgemaak het, verduur nie.
Die groep jong mans, wat volgens ’n woonstelinwoner glo tik en dagga gebruik, slaap in die dag by die woonstelle en loop snags rond.
Met die Mid-Karoo Express se besoek was twee van die booswigte vas aan die slaap, een in die kombuis en ’n ander een op die sypaadjie.
Volgens ’n ander woonstelinwoner lawaai dié booswigte in die nag. Hulle kap en brand glo kabels vir koper wat hulle na bewering aan skroothandelaars verkoop.
Inwoners kan ook nie waag om hulle wasgoed op te hang nie, want dit word gesteel.
Die eenheid waarin die booswigte bly is verwoes. Daar is ’n groot gat in die plafon en kasdeure en rakke, krane, pype sowel as die stoof en wasbak in die kombuis is uitgebreek. In die badkamer kan die toilet nie meer spoel nie en word die bad nou as ’n toilet gebruik.
Menslike ontlasting lê oral op die vloer en die vlieë en stank is onuithoubaar.
Die vermoede bestaan dat nog meer booswigte hulle in van die ander leë woonstelle wil tuismaak.
Shweni het gesê alhoewel hulle gereeld dié woonstelle in Mid-Karoo Express adverteer, kry hulle geen navrae nie.



