’n NATUURWONDER in Hofmeyrdistrik het in duie gestort.
Dié sowat 2,5 meter hoë pilaar van rooi skalie- en kleigrond, met ’n groot klip daarop, het baie toeriste laat stop om foto’s te neem.
Die pilaar was in die syloop van die Vlek- poortrivier, net bokant die Amajuba-keerwal, sowat 40km noord-oos van Hofmeyr langs die R391 Moltenoroete.
Die klip, van sowat twee meter by een-en-’n-half meter bo-op die pilaar het die oorspronklike grondoppervlak aangedui. Dit was so hoog voordat massiewe oorbeweiding en gevolglike erosie veroorsaak het dat die bolaag grond weggespoel het.
Daar word vermoed dat die sterk winde en uitermatige droeë toestande oor die laaste paar jaar die kleigrond laat verbrokkel het en gevolglik het die pilaar omgeval.
Die erge erosie in dié omgewing het voor 1944 ontstaan weens wanbestuur van weivelde en waterlope.
Teen-erosieprojekte is ná 1944 aangepak om te verhoed dat die hele Vlekpoortvallei wegspoel en erodeer.
Boere wat in hierdie omgewing boer, moet streng bewaringsboerderymetodes gebruik, ten einde te sorg dat die grond nie weer so verniel word nie.
Die 2,5 meter bogrond wat oor dekades uit die Vlekpoortrivier weggespoel het, kan nooit weer herwin word nie. So-ook is die erosiebaken wat as ’n herhinnering gedien het aan vroeëre jare se oorbeweiding, nou iets van die verlede.


