PASOP, Bella kou graag!
Dit is wat Anne Nel van Hofmeyr haar gaste met die intrapslag oor haar jaar-oue Rottwieler, Bella, waarsku.
“Sy kou skoene, klere en pak handsakke uit en kou dan alles wat daarin is. Sy sal sommer ook die handsak opkou as sy die kans kry,” sê Anne terwyl sy in haar sitkamer oor dié kouende hond praat.
By Anne se voete lê daar ’n rare verskeidenheid opgekoude goed. Meeste daarvan is ou skoene. Die woord is lankal uit oor Bella se kougewoontes en nou skenk mense hul ou skoene sodat sy ge-noeg kougoed het.
“Tasse en oornagsakke het heerlike kouplekke en Bella sal dit eenkant toe sleep, waar sy sonder om gesteur te word daaraan kan kou.”
Anne se bejaarde ma, Valerie Vermaak (94), wat by haar op die dorp bly, se skoonsuster Roselle Edwards (92) het onlangs vanaf Pretoria by hulle kom oornag.
Met haar aankoms het Anne die instruksies gegee oor hoe en waar om wat te bêre sodat Bella dit nie kan beet kry nie.
“Roselle het haar die aand gaan tuismaak in die gastekamer en alles is hoog neergesit. Sy het sommer haar oornagtas bo in die hangkas gesit. Haar handsak en skoene was bo-op die spieëlkas.
“Ai toggie, net voor sy aan die slaap raak, sit sy toe haar kunsgebit by die glas water langs haar bed. Toe sy opstaan is dit weg! Ja … Bella het dit beetgekry!”
Bella is jonk, groot en sterk. Anne die teendeel. En toe is die stoeiery aan om die kunsgebit uit Bella se kake te kry.
“Sy’t gekoes en gekeer. Uiteindelik het sy by my kon sit met die kunsgebit in haar bek. Gelukkig kon ek dit toe versigtig tussen haar kake uitdelwe.”
Tot almal se groot verligting en vreugde was die kunsgebit onge-skonde en kon Roselle, nadat sy haar tande goed gepoets en geborsel het, weer breed glimlag!



