DIE afgelope naweek was daar in Hofmeyr tienderjariges doenig wat groot skade op verskeie plekke aangerig het.
Dolly van Heerden deel mee dat daar by hulle winkel ingebreek is, en dat haar yskaste leeggesteel is, en ook haar vrieskas. Haar kasregister is ook gesteel, selfs al was daar geen geld in nie. Die inbrekers het bloot die veiligheidshek oopgesaag en die houtdeur oopforseer en be-skadig.
In Voortrekkerstraat werk die straatligte nog, en selfs die kersfeesliggies brand regdeur die jaar. Maar in die ander strate is daar bykans geen werkende straatligte meer nie. So bemerk André Reynders Saterdagaand teen 20:15 twee tieners wat al om die kerksaal stap. André woon reg agter die kerksaal. Hy gaan sit selfs later by sy buurvrou op die stoep, om die twee jongmense dop te hou. Mettertyd merk hy op dat hul nou oor die tuinhekkie van die NG Kerk geklouter het, en binne die omheinde erf van die kerkgebou is.
Reynders stap toe dadelik oor die straat na sy buurman, Cobus Claassen, wat waarnemende Koster is. Claassen en Reynders het hul onmiddelik na die kerktuin gehaas, waar hul die twee jongmanne vind. Intussen het André ook die polisie geskakel. Die twee het toe reeds ’n koelhouer met messe en vurke by hulle, maar kon hulself blitsvinnig oor ’n volgende hekkie uit die voete maak, en is straat af in die donkerte.
Sondagoggend vroeg kom Cobus toe met oopsluittyd agter dat die veiligheidslig by die badkamers van die kerk afgesteel is. Dit is algemene kennis dat hierdie gloeilampies gebruik word deur Tikverslaafdes om die poeier wat hul gebruik te verhit.
By nadere ondersoek blyk dit dat daar duidelike moddervoetspore teen die toiletpype op is tot bo-op die dak. ’n Sloffie en ’n mes, met plastiese handvatsel, is ook op die toneel gevind. Die lig is sodanig beskadig dat dit vervang sal moet word, aangesien die elektriese bedrading eenvoudig afgesny is. Ander inwoners in die dorp het ookal hul veiligheidsligte op dié manier verloor.
Niemand is in hegtenis geneem nie.



