MONTEGO, die Oos-Kaapse hondekosvervaardiger, het weens klagtes oor muf sowat 600 ton se hondekos van die winkelrakke en uit pakhuise herroep.
Dit kom nadat die maatskappy se hoofkantoor in Graaff-Reinet in die Groot-Karoo skielik ’n bo-normale getal mufklagtes oor hul hondekosprodukte gekry het.
Volgens Johan van Jaarsveld, besturende direkteur van Montego, is sedert 13 September ’n stygende patroon van klagtes hoofsaaklik vanuit Pretoria waargeneem.
Toe die klagtes styg, het hulle twee dae later besluit om ’n kennisgewing aan die depots en verspreidingspunte te stuur om van die hondekos terug te hou.
Van Jaarsveld sê dit blyk dat die mufprobleem wat voorkom in ’n Augustus-baksel hondekos dalk deur ’n foutiewe vogmeterleser veroorsaak is.
“Ons het geglo ons produseer op ’n 10%-voglesing, maar het toe agtergekom dat die meter foutief is en ons op 11% produseer,” sê Van Jaarsveld.
Hoewel 1% vog na ’n geringe verskil klink, meen hy dié verhoging lei daartoe dat gunstige toestande vir muf veel makliker ontstaan.
Montego se katkosprodukte word tot dusver nie geraak nie.
’n Toegewyde span is intussen aangestel om die omvang van die probleem vas te stel en die klagtes te hanteer.
Volgens Van Jaarsveld het die maatskappy landwyd 16 depots wat hondekos aan 2 080 winkels versprei. Honderde sakke hondekos is in hul ondersoek oopgesny.
“Ons het 600 ton hondekos herroep. Dit is nie ’n openbare herroeping nie, slegs van winkels se rakke en pakhuise.
“Maar nie alles daarvan was gemuf nie. Slegs 3% is geraak.”
Hy beskou die situasie as ’n gehalteprobleem met ’n lae voorkoms.
Verbruikers wat wel ’n sak gemufte hondekos teëkom, word aangeraai om dit gratis te gaan omruil waar hulle dit gekoop het.
“Ons aanvaar daar is ’n probleem. Ons staan pa vir die probleem en sal nie wegskram nie. Ons werk daaraan en wil proaktief wees.”
Gevra of die muf skadelik vir die diere is, sê Van Jaarsveld honde-eienaars word aangeraai om nie hul diere gemufte kos te voer nie, want dit kan tot ’n allergiese reaksie, soos ’n jeukende vel, lei.
Die grootste gevaar van gemufte hondekos is dat dit aflatoksien vorm, maar toetse op die erg gemufte hondekos wat van die rakke herroep is, het reeds negatief daarvoor getoets, sê Van Jaarsveld.
Om verdere probleme te voorkom word toetse vir spore van muf én toksiene in die kos wat herroep is en nuwe voorraad deurgaans in die fabriek gedoen.
“Dit is ’n familieonderneming, ons bestaan al 19 jaar, ons maak gereed vir ons 20ste bestaansjaar. Ons wil dit so gou as moontlik aan die mark onttrek.”
Indien enige probleme ervaar word met die omruil van hondekos waar dit gekoop is, kan Montego regstreeks by info@ montego.co.za of 049 891 0825 gekontak word.



