Bossieveld Craft Gin het onlangs ’n dubbele goue toekenning ontvang by die Michelangelo International Wine and Spirits Awards wat in Kaapstad gehou is. Foto:VERSKAF


TYDENS die afgelope Michelangelo International Wine and Spirits Awards wat in Kaapstad gehou is, het Bossie-veld Craft Gin ’n dubbele goue toe- kenning ontvang vir hul jenewer genaamd Meerkat.

Ten einde dié prestasie te beurt te val, moet ’n produk minstens 93 uit 100 punte toegeken word deur ’n paneel van 30 internasionale beoordelaars van vyf kontinente.

Wat dié toekenning nog meer besonders maak, is dat minder as 10% van die meer as 2 000 inskrywings wat jaarliks ontvang word, dubbele goue medaljes wen.

Louise van der Walt, ’n Pretorianer en apteker van beroep, kon haar nou maar eenmaal nie doof hou vir die roepstem van die Groot Karoo nie.

Goeie herinneringe aan die familieplaas Vaaljasfontein in die Venterstad–distrik, het bygedra dat sy sowat ses jaar gelede navorsing oor die medisinale waarde van karooplante begin doen het. Ankerbossie, ghanna, gwarriebos, en voëljie-kan-nie-sit-nie – selfs dié digterlike plantname verklap nog te min oor die geure en geheimenisse van hierdie onontdekte skatte.

Uiteindelik hét Louise ’n paar soorte medisyne gemaak. Sy het ook ’n gevorderde distilleerkursus gevolg en ekstrakte van karoobossies gemaak om dit in jenewer vas te vang.

“Op die ou end het niemand regtig in my medisyne belanggestel nie, maar almal wou gin hê!” lag Louise.

Dít was die begin van Bossieveld Craft Gin, die eerste van ’n reeks pro-dukte deur Great Karoo Spirit.

Die bossies wat in die bekroonde Meerkat gebruik is, kom net in sekere dele van die Karoo voor en is nog nooit voorheen in jenewer gebruik nie.

“Skape eet dit graag,” sê Louise, “en die bossies het ook medisinale eienskappe en word tradisioneel gebruik teen inflammasie en as ’n tonikum vir blaas en niere.

“Dieselfde bossies smaak anders as dit in ander gebiede geoes word. Die smaak verander ook seisoenaal en afhangend of skape dit gevreet het of nie.”

Ian Goss–Ross, uitvoerende direkteur en mede–eienaar van Great Karoo Spirit sê alle goeie stories het ’n nede- rige begin.

“Van die eerste oomblik toe Louise die medisinale eienskappe van Karoo-bossies begin navors het, is ’n uitsonderlike reis begin, wat nou uitgeloop het op hierdie wonderlike toekenning.”

In die dorre Karoo groei die gans-ogies, kriebos en wilde-als nie ánders, noudat twee goue medaljes die waarde van Karoobossies in die glans van die internasionale wyn– en spiritusmark definieer nie.

Maar dis goed om te weet, en dít weet die skaap en die kinders van hierdie hardeveld ewenwel: die Karoo is goud werd. Dubbel en dwars!

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article