TERWYL krane steeds vir lang tye aaneen droog bly in Graaff-Reinet, sit Gift of the Givers (GOTG) hul reusetaak voort.
Die humanitêre organisasie het verlede Donderdag ’n groot vrag water na dié droogtegeteisterde dorp gebring.
Vier maatskappye, Oasis Suid-Afrika, Jamianz Logistics, Label Leaders en Polyoak Packaging, het dié skenking moontlik gemaak, en 720 houers water van 25 liter elk is aan huishoudings in die dorp uitgedeel.
’n Verdere 35 000 liter is gebruik om tenks by ’n paar skole en behoeftige instansies op te vul, en 700 koolkoppe is aan varkboere besorg.
In Kroonvale het inwoners blitsig ’n lang ry gevorm nadat die GOTG-vragmotor daar stilgehou het en die water is deur dankbare inwoners in ontvangs geneem. Heelwat inwoners moes egter met leë houers terugdraai omdat ’n tweede vrag water vir ’n ander woonbuurt bestem was.
“Dit was swaar om daar weg te ry en te weet nie almal is vandag geholpe nie,” het ’n bekommerde dr. Gideon Groenewald, geohidroloog van Gift of the Givers, aan Komani-Karoo Express gesê.
“Alhoewel GOTG groot persoonlike opofferinge maak, sal enige bydrae, beide finansieel of ten opsigte van materiële hulp waardeer word. Slegs deur saam te staan en hierdie droogte volbors tegemoet te loop, kan Suid-Afrika die ramp van hierdie droogte oorleef.”
