’n VOORMALIGE hoofseun van die Hoër Landbouskool Marlow in Cradock, is vanjaar een van die finaliste in die Boer Soek ’n Vrou-program wat Donderdae op kykNET uitgesaai word.
Graham Lombard (27) sê hy het nie werklik ingeskryf met die idee dat hy nou al wil trou nie, maar as hy die regte meisie ontmoet, kan dit dalk gebeur.
Graham woon op die oomblik by sy ouers, Erik en Celest, op hul plaas in die Cradock-distrik waar hulle onder meer ’n groot melkery bedryf. Hy het ná skool as ingenieur gekwalifiseer en twee jaar in Stellenbosch gewerk voordat hy plaas toe gekom het om sy pa te kom help.
“Boer soek ’n Vrou was ’n wonderlik ervaring vir my en ek raai al die ongetroude jong outjies aan om ook deel te neem. Dit is ’n wonderlike ondervinding en mens ontmoet baie nuwe mense en maak lekker vriende,” het hy vertel.
Volgens Graham was dit ook lekker om met ander boere oor hulle soort boerdery te gesels en wenke oor hoe hulle dinge doen, te hoor.
“Een van die dinge wat ek altyd van Boer soek ’n Vrou sal onthou, is dat ek ook die geleentheid gehad het om Leah te ontmoet. Sy is vreeslik gaaf en doen haar bes om mens op jou gemak te laat voel,” het hy vertel.
Graham sê in Cradock se klein gemeenskap maak mense nie juis ’n ophef daarvan dat hy op televisie is nie, maar hy het ’n rukkie gelede op Port Elizabeth se lughawe nogal geskrik toe vreemde mense na hom toe kom en sê “Haai, is jy nie in Boer soek ’n vrou nie?”
Graham sê daar gaan nog opwindende dinge gebeur en kykers kan gerus Donder- dagaande inskakel op die program.
- Boer soek ’n Vrou word elke Donderdag om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.




