DIE Passiespele wat vandag en môre in Graaff-Reinet aangebied word, is geïnspireer deur die oorspronklike Passie-spele wat elke tien jaar in die dorpie Oberammergau in die Beierse Alpe van Duitsland aangebied word.

Nadat builepes in 1632 in dié Europese dorpie uitgebreek het, het die dood ’n jaar later aan feitlik elke gesin se deur geklop. Inwoners het besef dat dit mens-lik onmoontlik sou wees om die plaag te keer en het besluit om hulle sondes voor God te bely.

In ’n plegtige belofte het inwoners onderneem om die Passiespele elke 10 jaar op te voer indien hulle lewens gespaar sou word.

Volgens oorlewering was daar geen verdere sterftes na die belofte nie en selfs dié wat reeds die dodelike siekte onder lede gehad het, het herstel.

Die Passiespele is die eerste keer in 1634 opgevoer. Die volgende vertonings daarvan sal van Mei tot begin Oktober 2020 in Oberammergau plaasvind.

Gemeentelede van NG Grootkerk, Graaff-Reinet is die afgelope paar weke hard aan die oefen vir die 2019 Passie-spele. Die aangrypende aanbieding en dekor is deur die gemeentelede self geïnspireer. Die doel van die Passiespele is om die boodskap van lewe uit te dra na die gemeenskap.

“Ons wil graag die hele gemeenskap hartlik nooi om die onvergeetlike ervaring van ’n groot verhoog met dramatiese groeptonele te kom beleef,” het Henry Thomson van die NG Grootkerk gesê.

“Die uitbeelding is nie gerig op enige kerkverband nie, maar gee opnuut betekenis aan die Kruisgebeure.”

Die Passiespele in Graaff-Reinet word vandag en môre om 18:30 in die kerkgebou aangebied.

Toegang is gratis, maar donasies is welkom en besoekers word aangemoedig om vroeg op te daag om ’n sitplek te ver-seker.

  • Vir meer inligting kontak Henry Thomson op 082 452 6565.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article