Kunstenaar en spreker Annari Oosthuysen het die wêreld vol gereis en is nou tuis en gelukkig in die Karoo op Cradock. Foto:VERSKAF


’n KUNSTENAAR wat die wêreld vol gereis het is nou “tuis en gelukkig” in die Karoo. Dit nadat sy heel toevallig vroeër vanjaar op Cradock beland het en besluit het hier wil sy bly.

Annari Oosthuysen, wat op Instagram bekend is as die Travelling Karoo Artist, bied nou dagkunsklasse aan op Cradock, Schoombee, Hofmeyr, Barkley-Oos, Dordrecht, Bedford en selfs in die Baai.

By elkeen van dié klasse bederf sy haar studente met ’n ete wat pas by die kuns- tema waaraan gewerk word.

Annari het skone kunste en onderwys aan die Universiteit Vrystaat gestudeer en daarna haar vlerke gesprei om die wêreld te verken.

Sy het vir ’n jaar in Zambië en Malawi sendingwerk gedoen en toe vir vier jaar aangesluit by die Sterkspruit Private Christian School. Dié skool behoort die afgelope 22 jaar aan haar ouers, wat naby Lady Grey boer.

Daarna het sy met kunsklasse op Bur-gersdorp begin en toe ’n onderwyspos in Qatar aanvaar. Vandaar het sy tydens skoolvakansies plekke soos Phuket, Thailand, Jordanië en Israel besoek en ver-ken.

Sy het ook ’n draai in Nieu-Seeland gemaak en daarna teruggekeer na Suid- Afrika.

Dit is toe wat die noodlot haar in Januarie vanjaar, onderweg van Jeffreysbaai na Lady Grey, by die Victoria Manor in Cradock laat beland het.

’n Maand later was sy terug om die hotel se inwonende kunstenaar (artist in residence) te word, waar sy gaste se veteraan motors, hul kinders of diere in verf ver-ewig het.

Die geleentheid het oor haar pad gekom om die geskiedkundige Metodiste-kerk se pastorie te huur en sy het dit haar tuiste gemaak en ook ’n ateljee daar ingerig. Dit is waar sy kursusse in potlood- en houtskoolsketse, pastelle, akriel, olie- en waterverf aanbied.

Buiten skilder is Annari ook ’n gewilde spreker. Sy het onlangs by die roosskou op Tarkastad opgetree waar sy die vroue geleer het hoe om met koekkleursel te verf.

Annari woeker nou om voor die einde van die maand ’n kunsuitstalling van haar studente se werk op haar nuwe tuisdorp, Cradock, aan te bied.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article