Retief Odendaal, DA skadu-LUR vir landelike ontwikkeling en grondhervorming. foto: VERSKAF


DIE Demokratiese Alliansie (DA) in die Oos-Kaap het premier Oscar Mabuyane versoek om ’n droogtebe-heersentrum in die provinsie op die been te bring.

Die doel van die sentrum sal wees om enige noodtoestande of probleme ten opsigte van die droogte effektief te kan aanspreek.

“Hoewel die provinsie uiteindelik tot droogterampgebied verklaar is, is ons steeds besorg daaroor dat daar geen omvattende droogteplan in plek is wat sal verseker dat die provinsie alle droogteverwante rampe vinnig en effektief sal kan hanteer nie,” het Retief Odendaal, skadu-LUR vir lan-delike ontwikkeling en grondhervorming, Maandag in ’n persverkla-ring gesê.

“Ten einde die bul by die horings te pak, is dit noodsaaklik dat alle owerhede op ’n gereedheidsgrondslag beskikbaar moet wees om kritieke areas waar ingryping nodig is, te identifiseer.

“Verskeie Oos-Kaapse dorpe en nedersettings loop reeds die risiko om geheel en al sonder water te sit, en dit is dringend noodsaaklik dat die pro- vinsie proaktief optree in die lig van hierdie dreigende ramp,” het Odendaal gesê.

In ’n skrywe gerig aan premier Mabuyane het Retief voorgestel dat die droogteheersentrum onder meer sou kon help met:

  • proaktiewe vooruitskouing van moontlike probleemgebiede en die ontwikkeling van die nodige gebeurlikheidsplanne;
  • die implementering van noodmaatreëls in gevalle waar munisipaliteite se water heeltemal opgeraak het, en;
  • die monitering van watergehalte om die verspreiding van moontlike siektes in waterarm gebiede te voorkom.

Terwyl die voortslepende droogtetoestande in die Sarah Baartman-, Chris Hani- en Amatole-distrikte landbou ernstig kniehalter, word gehoop dat die daarstelling van ’n droogtebeheersentrum ook kan bydra tot die dringende verspreiding van voer na opkomende en kommersiële boere wat droogtehulp benodig.

Die voorgestelde droogtebeheersentrum sal bestaan uit verteenwoordigers van die departemente van landelike ontwikkeling en grondhervorming, samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta), veiligheid en skakeling, en gesondheid, sowel as provinsiale tesourie, en sal funksio-neer as ’n sambreelliggaam vir alle ander droogteverwante probleme.

“Inwoners van die provinsie moet daagliks met die rampspoedige gevolge van hierdie voortslepende droogte saamleef,” het Retief in sy verklaring gesê.

“Dit is tyd om aan hulle te bewys dat die regering die nodige omvattende en verantwoordbare planne, strategieë en strukture in plek het om effektief te kan optree in hierdie noodtoestand.”

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article