DIE Excelsiors Rugbyklub in Midros vier vanjaar sy 65ste bestaansjaar.
Die klub is in 1954 gestig en was by die destydse SA Rugby Voetbal Federasie geaffilieer. Excelsiors het al ’n hele rits Suid-Afrikaanse rugbysterre opgelewer soos Springbokspeler, Ater Phyllis, Jaco Booysen (Leeus), en sy broer, Deon Booysen wat vir die Oostelike Provinsie uitgedraf het.
“Die klub gaan steeds van krag tot krag, en ons skryf 65 goue jare toe aan die toegewydheid van spelers en die volgehoue ondersteuning van ons lojale toeskouers,” sê Dougie Kerneels, voorsitter van die klub.
“Ons is ook trots op Winston Grootboom, wat vir die Leeus se o.21-span uitgedraf het en deesdae dié einste span afrig. Hy kom steeds so nou en dan huistoe en kom maak ons spelers bietjie touwys.”
Die klub het hul 65ste bestaansjaar verlede Saterdag op luisterryke wyse in die Midros gemeenskapsaal gevier met Calvert Stanford, onderhoof by die Van Der Merwe Gedenk Primêre skool, as gasspreker.
Volgens Calvert moet die waarde van ’n klub soos Excelsiors nie deur die gemeenskap onderskat word nie.
“Hier maak dit nie saak wat jou woonadres is nie – Excelsiors is vir almal. Vriendskapsbande tussen mense met verskillende agtergronde word gesmee en elke speler leer homself ook beter ken.”
Calvert het spelers herinner dat wen én verloor ’n realiteit is, nie net in rugby nie, maar ook in die lewe.
“Op die sportveld leer ’n jongman dat hy sy vrees kan omsit in waagmoed. Dat ’n mens wen én verloor met waardigheid moet hanteer.
“Dit gaan swaar in die gemeenskap en die samelewing toon morele verval, maar ek is oortuig dat Excelsiors by magte is om die gety te draai in Midros,” het Calvert afgesluit.




