“DIS nogal ’n duur saak, maar ek wou graag my seun die geleentheid gee om sy rugbydrome te verwesenlik.”

Dit is die woorde van Lisa Taljaard, ma van Enric Taljaard (17) wat gekies is om in Februarie 2020 in Portugal te gaan rugby speel.

Die Taljaards woon in die Baai en Enric is ’n leerder by die Hoër Landbouskool Marlow buite Cradock.

Lisa vertel dat Enric tydens proewe in Bloemfontein gekies is vir die Suid-Afrikaanse Barbarians o.17 sewesspan.

Dit is vanjaar sy laaste jaar as o.17 speler en hulle wou nie dié kans om oorsee te speel verby laa gaan nie. Vir dié kans moet hulle R28 000 opdok en dan nog self vir sy retoer vliegkaartjies uit die Baai na Oliver Tambo-lughawe betaal.

Lisa het besluit om ’n roomys tooisel-pakkie aanmekaar te slaan wat in die warm weer baie goed verkoop.

Die pakkie bevat 12 versuikerde en 12 gewone roomyshoringkies, vyf wafelmandjies vir roomys en vier verskillende versiersels soos strooisels (sprinkles), lettertjies en souse om oor die roomys te gooi. Dié pakkies verkoop teen R250 elk.

Hulle het ook aansoek gedoen om by die Back-a-Buddy-projek ingesluit te word. Dit is waar enige iemand ’n donasie ten gunste van Enric se toer kan maak.

  • Vir meer inligting kan Lisa by 079 143 5102 gebel word.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article