DIE Amerikaanse joernalis en kampvegter Margaret Fuller het geglo: “Vandag ’n leser, môre ’n leier”.
Die personeel van Graaff-Reinet Primêre skool stem saam. Daarom doen hulle baie moeite om nuwe lewe in die skool se senior en junior biblioteke te blaas.
In die junior biblioteek is die mure reeds vrolik geverf, met tafeltjies en stoeltjies waar die kinders gemaklik kan sit en op verbeeldingsvlugte weggevoer kan word tussen die blaaie van ’n boek.
Jacqueline Rademeyer is aan die stuur van dié “nuwe lewe” in die biblioteek.
“Ons het goeie boeke van onder andere Elizabeth Eybers, Louis Leipoldt en Audrey Blignaut. Die kinders haal graag iets van ons tydskrifrak af, en ons het ’n rak vir koerante ook.
“Maar ons het meer nuwe Afrikaanse boeke en tydskrifte nodig. Iets wat kinders in die senior fase van die laerskool graag sal wil lees en waarby hulle kan aanklank vind. Enige skenkings van sulke boeke sal met ope arms verwelkom word,” het Rademeyer gesê.
Daar word jaarliks biblioteekmonitors uit die graad 6 leerders gekies om met die praktiese bestuur van die boeke en leesruimte behulpsaam te wees.
Volgens Rademeyer word daar ook beplan om die biblioteek soms ná skool vir kinders toeganklik te maak, sodat hulle daar kan sit en huiswerk doen, net soos van ’n openbare biblio-teek gebruik gemaak sou word.
“Libraries raised me,” het die Amerikaanse skrywer en Pulitzer-pryswenner Ray Bradbury gesê.
In ’n wêreld waar die aanval op kinders se morele waardes daagliks in felheid toeneem, kan die heilsame waarde van ’n goeie boek en ’n omgewing waarin geletterdheid bevorder word, nooit onderskat word nie.
- Belangstellendes wat boeke wil skenk aan die junior of senior biblioteke van Graaff-Reinet Primêre Skool kan Jacqueline Rademeyer bel by 084 652 9903.




