HOFMEYR Hugs of Hope, ’n werkskeppings- en vaardigheidsontwikkelingsinstansie op dié Karoodorp is be-noem as die “Grantee of 2019” tydens Ikhala Trust se jaarlikse dinee wat in Port Elizabeth gehou is.
Hiervoor het Hugs of Hope die Stanley Elliot herdenkingstrofee ontvang wat deur Bernie Dolley geskenk is om haar pa se nalatenskap te verewig.
Die instansie het ook die Naudé- sowel as Tina Boshoff-herdenkingstrofee vir hul gemeenskapsbetrokkenheid ontvang.
Die instansie was verteenwoordig deur Teresa Opperman (bestuurder), Irmgard Claasen (intern in entrepreneurswese) en Elisma de Jager (multimedia en bemarkingsbestuurder).
’n Ikhala-fees word jaarliks aangebied vir gemeenskapsontwikkelingsinstansies en vanjaar was die tema “Expanding the footprint”. Instansies het opleiding ontvang in teorieë om veranderinge en vooruitgang te be-werkstellig.
Die fees is afgesluit met Ikhala se jaarlikse dinee waartydens verskeie toekennings gemaak is aan Oos- Kaapse instansies.
Alle instansies het erkenning ontvang vir hulle betrokkenheid binne hul gemeenskappe.
Dié dienste sluit in geestesgesondheid, gemeenskapsontwikkeling, maatskaplike dienste, kindersorg, gestremdesorg, vigs- en teringsorg, vroue-in-nood versorging.
Sewe-en-sestig persone uit alle vlakke van die samelewing het die geleent-heid bygewoon.
Tydens die geleentheid het Bernie Dolley, hoof van Ikhala Trust, as spreker opgetree terwyl Ninette Eliasov en Sarah Hugow (voorsitter van die Raad van Ikhala Trust) ook insette gelewer het.
’n Anonieme skenker het beloof om betrokke te bly by ontwikkelings in Twinsville waar daar tans ernstige waternood is.
In haar bedankingstoespraak het Teresa Opperman, bestuurder van Hofmeyr Hugs of Hope, melding gemaak van die goeie samewerking wat die instansie geniet van die plaaslike gemeenskappe en omliggende dorpe.
Skenkings word selfs landswyd ontvang vir opheffingswerk wat op Hofmeyr gebeur.
Sonder dié ondersteuning en samewerking sou Hofmeyr Hugs of Hope nie naastenby so effektief kon diens lewer in die dorp en omgewing nie.




