WAT veronderstel was om ’n romantiese kuier met sy toekomstige bruid te wees, het in ’n tragedie ontaard toe ’n jong man van Port Elizabeth in die woning van sy voornemende skoonouers gesterf het.
Die tragiese voorval het die afgelope Saterdag by die Wessels-woning in Fort Beaufort afgespeel.
Morné George (35) van Bloemendal in Port Elizabeth het vermoedelik aan ’n hartaanval beswyk. Paramedici het vir meer as twee ure naarstigtelik probeer om sy lewe te red, maar moes uiteindelik teen 15:30 die stryd gewonne gee.
’n Somber atmosfeer het Komani-Karoo Express die afgelope Maandag by die Wessels-woning by Proteastraat 1 op dié dorp begroet. Die familie het nog verslae in die woonkamer gesit.
George se voornemende bruid, Lauren Wessels (29) se oë was rooi gehuil.
Luidens Wessels se pa, Freddie, het George Saterdag gekla dat hy moeg is.
“Teen die namiddag het ek hom iets te ete en drinke aangebied en hy het op sy bed gaan sit. Toe ek so tien minute later by sy kamer inloer het hy met die toebroodjie in die hand op sy maag gelê,” het Wessels gesê.
Omdat George nie gereageer het nie, het Wessels dadelik die ambulans gebel.
Luidens Wessels was paramedici van Aldersons mediese dienste blitsvinnig op die toneel en het alles in hul vemoë gedoen om vir George te stabiliseer.
“Hulle het waarlik die ekstra myl geloop,” het Wessels gesê.
George se bedroefde meisie, Lauren, het gesê, “Ons sou Sondag ons verlowing by my kleinnefie se aannemingsfunksie aankondig.”
Hulle was die afgelope vyf jaar in ’n verhouding en sterk op pad om die huweliksknoop deur te haak.
Wessels se ma, Diana, het George beskryf as ’n huiskind.
“Dit was altyd só vrolik as hy hier was en ons het swaar van hom afskeid geneem as hy terug werk toe moes gaan.
George was ’n werknemer van die firma Grindrod in Port Elizabeth.
’n Nadoodse ondersoek sou vandeesweek uitgevoer word. Hy word Saterdag in Port Elizabeth ter ruste gelê.




