NAGENOEG sestig inwoners van al Cradock se gemeenskappe het verlede Sondag by die kruis bo-op Oukop saamgekom, om te bid vir reën.

Ouderling Benjamin Peters, wat die geleent-heid gereël het, het vertel hoe hy vir ’n geruIme tyd reeds, elke oggend in die vroeë ure, op Oukop net buite die dorp, gaan bid vir die dorp en sy mense.

Sy eerste missie was om van die baie drankbottels wat daar rondlê ontslae te raak, die gebied skoon te maak en vir die mense wat die bottels daar gegooi het, te bid.

“Later het ek vir die hele gemeenskap begin bid en toe het die Here dit op my hart gelê om dié byeenkoms te reël,” sê Peters.

Hy het ook reeds twee bome by die kruis geplant.

Verskeie ander kerkleiers van onder meer die NG-kerk en Victory Church het ook aan die samekoms deelgeneem.

Een van dié kerkleiers het die boere bedank vir hul kosproduksie en gesê die hele gemeenskap buig hul knieë vir die boere en hul vee waarmee dit so sleg gaan in die droogte.

’n Ander het gesê dat almal saam moet hande vat om die “mure” van Cradock weer op te bou.

Lukas Rudman van die Victory Church het klein sakkies met mostertsaadjies uitgedeel en mense verseker dat as hulle geloof het soos mostertsaadjies, dan sal dit weer reën.

Om mee af te sluit, het almal hardop saam hul eie gebed gebid. Michael J Smith se liedjie, Let it Rain, is ter afsluiting gesing.

Die ysterkruis bo-op Oukop is etlike jare gelede al deur ’n groep gelowiges geplant as ’n baken van hoop.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article