EDNA Gillmer, ’n bekende voormalige sakevrou van Cradock, het verlede Donderdag haar 95ste verjaarsdag gevier met ’n gesellige partytjie in die Elizabeth Jordaan-tehuis vir Bejaardes.
Sy geniet nog goeie gesondheid en woon in haar aftreehuisie in die Erica-sentrum, waar sy die gelukkige dae onthou toe sy en haar man, Corné, vir 55 jaar lank ’n haarkappersalon op dié Karoo-dorp bedryf het.
Cornè het aanvanklik met ’n manshaarkappery begin. Nadat die Gillmers getrou het, is dié salon ingerig om mans en vroue se hare te versorg.
Die besigheid het spoedig uitgebrei en die Gillmers was genoodsaak om nog personeel aan te stel. Hul dogter Hazel, het ook vir ’n tydperk daar gewerk.
Sy onthou dat in daardie jare, het haar vriendin Guida Henderson en haar broer Ivor Tapp, die bekende Austin’s apteek van voor af begin opbou het.
Edna se kinders, Cornel, Emile, Hazel en Henry Schamrel, woon op Cradock terwyl haar oudste seun, Fonty en sy vrou, Janine op Danabaai afgetree het. Sy het agt kleinkinders en 15 agter-kleinkinders.




