’n Boer stap tussen die bale deur. Foto:WILNA DE KLERK


BOERE van die Samenkomst- en Agtersneeuberg Boereverenigings in die Cradock-distrik het verlede Donderdag angstig langs die Graaff Reinet-pad gewag vir 15 trokke met veevoer wat uit Gauteng en die Vrystaat vir hulle aangery is.

Volgens Billy van Zyl, voorsitter van Agtersneeuberg se boerevereniging, het hulle by Droogtehulp SA, waarvan Chris van Biljon die voorsitter is, aansoek gedoen om hierdie hulp.

Hy sê hulle het uit eie inisiatief die aansoek gerig aangesien húlle deel van die distrik na sy mening die droogste is.

“Ons het geen besproeiing nie en ons ondervind tans die ergste droogte in meer as 50 jaar. In ons gebied het ons bykans geen meer water nie en dit is veral die boere in die bergagtige gedeeltes, waar daar gewoonlik fonteine is, wat in ’n baie kritieke toestand is.” het Van Zyl gesê.

Volgens hom het baie boere al baie vee verloor en moes hulle hul kuddes kleiner maak. Ten spyte daarvan moes hulle ook al derduisende rande aan veevoer bestee. Hy sê wild op die plase vrek teen ’n geweldige tempo en hoewel dit kritiek is en ’n groot kommer vir boere, is dit nie moontlik vir hulle om nog die wild ook te voer nie.

Die twee betrokke boereverenigings verteenwoordig 35 boere van die distrik.

Van Zyl sê hulle gaan die hele skenking in 35 eweredige hope verdeel, waarna die boere elk ’n hoop kan kies om huis toe te neem.

“Dis wonderlik om te sien hoe al die boere saamwerk in hierdie noodtoestand,” sê hy.

Ten spyte van die skreiende droogte rondom hulle, het daar ’n feestelike atmosfeer geheers op die terrein waar die boere die trokke ingewag het. Boere, hul vroue en kinders het almal in afwagting die horlosie dopgehou.

Die konvooi van 15 trokke en ’n paar bakkies en kleiner sleep­waens, wat onder meer grasbale, koringhooi en hoendermis vervoer, het onder begeleiding van drie motors van die Gautengse verkeersdepartement aangekom.

Hulle het die Woensdagaand op Middelburg (Kaap) geslaap en Donderdagaand by boere van die omtrek en gratis in gastehuise op Cradock oornag.

Hulle het die Vrydagoggend weer op die lang pad terug vertrek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article