Gagik Ovsepian is ten aanskoue van sy vrou doodgeskiet. Foto:Facebook


’n KLAG van moord en huisroof word ondersoek ná die moord op die sakeman Gagik Ovsepian (56) van Stutterheim.

Ovsepian, eienaar van die kitskosrestaurant Southern Fried Chicken in Stutterheim, is Saterdag om 03:00 in sy huis doodgeskiet.

Brig. Thembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, sê Ovsepian en sy vrou is deur drie mans op die tweede verdieping van hul huis aangeval.

Die mans het vermoedelik deur ’n oop venster toegang tot die huis verkry. Volgens die polisie het die mans geld by die egpaar geëis.

“Hulle het hom geskiet en in sy silwerkleurige Mercedes-Benz weggejaag. Hulle het ook twee selfone en juweliersware gesteel,” sê Kinana.

Ovsepian is op die toneel dood. Sy motor is later verlate op die N6 gekry. Niemand is nog in verband met die moord in hegtenis geneem nie.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article