DIE twee susters van Cradock in die Oos-Kaap wat drie dae soek was, is Sondagaand in Pretoria opgespoor.
Die meisies, wat in hul oupa se sorg is, is op 13 Desember by hul ouerhuis in Cradock afgelaai waar ’n maatskaplike werker hulle sou besoek, maar is toe na bewering deur hul ouers ontvoer.
Konst. Sibongile Ngesi, ondersoekbeampte, sê die kinders is ongedeerd by ’n plek van veiligheid in die weste van Pretoria opgespoor.
Ngesi sê die ouers het die eienaar van die skuiling gebel en gesê hulle het blyplek in Pretoria nodig.
Ngesi sê die vrou het op Facebook uitgevind die kinders is as vermis aangemeld en sy het die polisie ingelig.
Die ouers is in Pretoria in hegtenis geneem en sal na Cradock gebring word waar hulle na verwagting binnekort in die hof sal verskyn.
Die meisies se oupa het hulle Sondagoggend in Pretoria gaan haal en is verlig dat hulle gevind en ongedeerd is, sê Ngesi.
- Die sussies is 12 en vyf jaar oud en hul identiteit is bekend gemaak omdat hulle vermis was en dit in die openbare belang was. Luidens die Kinderwet mag hul name nie meer gepubliseer word nie en Netwerk24 mag ook nie die identiteit van hul ouers bekend maak nie.


