ONS was bevoorreg om die afgelope vakansie die lang pad te vat vanaf Johannesburg na die Oos Kaap.

By Cradock het ons afgedraai na ’n plaas daar verby Michausdal waar ons die eerste nag oorgebly het.

Cradock is ’n dorp wat aan ’n mens se hart vat. Dit is asof die ryke geskiedenis van die plek ’n noodkreet uiter wat smeek dat dit wat daar so kosbaar is behoue moet bly.

In die Country Life tydskrif sien ek toe die wonderbaarlike artikel oor Cradock en hoe die noodkreet gehoor word en hoe mense wat reeds be- talings maak aan die munisipaliteit vir basiese dienste, addisioneel finansieël bydra en met armpies uit die mou die vore oopgrawe sodat die dorp net weer kan asemhaal.

As ‘n verbyganger wil ek uit die diepte van my hart dankie sê aan Lou Venter en die Cradock Community Forum wat hom help om die kosbare dorp se lewe te red.

Dit bring my by die inwoners van Michausdal. Mense, ons het deur die vlaktes van julle plastieksakke gery met ’n dolksteek in ons harte.

Is daar niemand in julle geledere wat ook sal opstaan en sê genoeg is genoeg nie?

Cradock het oneindige potensiaal en is reeds een van die mees gewilde toerismedorpe in Suid-Afrika.

Dit kan soveel meer wees. Dit beteken werk vir almal. Dit beteken voorspoed vir almal.

Cradock is ’n geskenk aan julle elkeen. Moet dit tog nie in ’n berg vullis versuip nie.

MARI VENTER

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article