NADAT sy in Februarie 1994 gevra is om “’n bietjie uit te help” by ACVV Cradock se Hasie Kalbassie-speelskool, het Petro Gerber nou, ná 25 jaar by die skooltjie, afgetree.
Gerber het vertel dat hulle aanvanklik begin het met ses kleuters wat drie keer per week skool toe gekom het.
Vanaf April daardie jaar was hulle heel week oop en het meer kleuters die skool bygewoon. Met Gerber se aftrede was daar 30 kleuters by Hasie Kalbassie.
“Ek moes my eie tweeling grootmaak en het nooit geweet ek sou ’n juffrou word nie,” het Gerber vertel.
“Daar het in die 25 jaar ongeveer 600 kinders deur my hande gegaan en aan die einde van elke jaar was ek hartseer om hulle te groet.”
Sy vertel dat sy deur die jare baie trane moes afdroog en soms ’n skop of ’n klap verduur, maar nogtans het sy by die skooltjie se gradeplegtigheid aan die einde van 2019, sestien bossies blomme en negentien sjokolade-stafies ontvang.
Gerber is ook bekend as organiseerder van die Liefie Kinder- kosprojek op Cradock. Sy sorg daag-liks dat hierdie kinders een maaltyd by die skool kry.
“Ons het met die Voorbereidende-, Laer- en Hoërskole begin, maar op die oomblik gee ons nagenoeg dertig kinders by die laerskool kos.
Gerber was ook vir 22 jaar die organiseerder op Cradock wat Die Burger-koerant soggens laat aflewer het. Sy wil graag haar dank uitspreek teenoor die ACVV, Cradock-gemeenskap, haar man, kinders en kleinkinders en haar Hemelse Vader wat haar so getrou bystaan.
“Dit is nogal ’n groot verandering in my lewe om nou nie meer so vroeg hoef op te staan, kos te maak en skool toe te jaag om die kinders in te wag nie,” het Gerber gesê.




