IN Cradock ry bakkies weer met modder gespat rond en die ko- öperasies verkoop weer fluks reënjasse en reënmeters.
Volgens Hilton Collett, voorsitter van Cradock Distrikslandbou–unie, het die distrik die afgelope ses weke goeie reën gekry.
Daar was tot 220mm gemeet op plase wat aan die begin van Januarie begin reën kry het en 80mm op plase waar dit eers aan die einde van Januarie begin reën het.
“Goeie opvolgreën is egter nou kritiek sodat die veld nog kan groei,” het hy gesê. Hy het egter verduidelik dat 35% van karoo-bossies nog nie begin uitloop het nie maar hy vertrou dat dit met opvolgreën sal geskied. “’n Goeie, normale reënseisoen is egter noodsaaklik om die veld te laat herstel,” het hy bygevoeg.
Volgens hom is daar egter nog net ses weke groei oor in die hoogliggende dele van die distrik waar die eerste ryp al gedurende die eerste week van Maart verwag word.
Volgens Collett was dit ’n lang droogte wat veroorsaak het dat reserwes baie laag is met winter net om die draai. Met goeie opvolgreën en as dit eers later ryp, sal boere egter ’n kans hê om die winter te oorleef.
Besproeiingsboere se produksie op hul lande het ook aansienlik verbeter. Ná die reën het hulle ook nie soveel besproei-ingswater uit die kanale nodig nie, wat ’n groot hulp is vir boere wie se kwotas eersdaags oorskry sal word.
In die Elandsdriftgebied van die distrik waar die reën baie laat gekom het, is boere verheug oor die 44mm wat onlangs daar aangeteken is.
“Ons is baie dankbaar vir die reën en sien uit na opvolgreën,” het dr. Ettienne du Toit, wat in daardie omgewing boer, gesê.
Hulle sien ook angstig uit na opvolgreën en is veral dankbaar vir die bietjie water wat Commandodrift-dam opgevang het.
“Dis genoeg vir twee leibeurte en alhoewel dit laat in die seisoen is, kan ons nou ook plant,” het hy bygevoeg.


