KOPERS van so ver as Malmesbury en Lesotho het na die Retief Geelbek Merino’s se 10de produksieveiling gekom wat verlede Vrydag by Gordonsfontein tussen Middelburg en Hanover gehou is.
Al 81 ramme wat op die veiling aangebied is, is teen ’n gemiddelde prys van R9 500 elk verkoop.
Die verkopers, Kleintjie, Johannes en Willem Retief se top ram op die veiling is deur Rupert Cronje (namens CGOC Boerdery, Smithfield) vir R60 000 gekoop.
Die Modern Merino groep se 1 300 ooie is deur middel van video-materiaal wat voor die veiling saamge-stel is, verkoop. Verskeie kopers en belangstellendes reken dat hierdie metode verseker ook bygedra het tot die 100% verkope van die ooie.
Te midde van die droogte is die Retiefs tevrede met die resultate van die veiling.
Terwyl die gaste oudergewoonte na afloop van die veiling gesellig saamgekuier het in die Retiefs se skuur, is die produksieveiling met ’n welkome 50mm reën op Gordonsfontein geseën.




