CRADOCK 4×4 klub hou gewoonlik aan die begin van elke jaar ’n manne-naweek sodat hulle al hul “gedoentes” om ’n kampnaweek gerieflik te maak, kan uittoets.
Hierdie jaar het hulle die berge in Molteno-distrik ingevaar.
Volgens Bernard Costerus, die klub se woordvoerder, het hulle by ’n nuwe kampplek wat vir skeerspanne ingerig is, nesgeskop.
Lede wat ’n bietjie verder moes ry, het ’n rukkie daarna by hulle aangesluit en nog later het 4×4-ryers van Port Elizabeth opgedaag.
Saterdagoggend was almal vroeg uit die vere om die tog die berge in te begin.
Langs die pad is gestop vir ontbyt en middagete en kon brawes die koue poele aanvat om te swem, ongeveer 2 000 meter bo seevlak.
Die gebied het ’n ryk geskiedenis en heelwat besienswaardig- en interessanthede is deur die toerleier uitgewys en vertel.
Laatmiddag het die voertuie en hul effe flou bestuurders weer die tweespoorpaaie tot by die kamp gevolg. Van die jong manne was nog lus vir sports en daar is ’n paar uitdagings tussen die voertuie gehou. Nadat die boetemeester ’n paar manne oortuig het van foute wat hulle gemaak het, is daar gesellig en in ’n goeie gees verder saamgekuier.



