By sommige skole in die Oos-Kaap moet leerlinge steeds onvoldoende sanitasiegeriewe gebruik.Foto:VERSKAF


AL is die onderwysdepartement in die Oos-Kaap in 2018 met ’n hofbevel gedwing om sy infrastruktuurteikens te haal, word sanitasiegeriewe by skole in die provinsie steeds teen ’n slakkepas opgeknap.

Daar is ’n agterstand van 1 598 skole waar die geriewe nog opgeknap moet word en by van dié skole moet leerlinge puttoilette gebruik. In die vorige boekjaar het die departement slegs die geriewe by 44 skole uit ’n beoogde 169 skole opgeknap.

Die drukgroep Equal Educa­tion het die departement voor die hof gedaag en sy saak teen Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, in 2018 gewen.

Die hooggeregshof in Bhisho het ’n bevel gemaak wat die departement dwing om sy teikens te haal soos in die departement se norme en standaarde uiteengesit is.

Volgens die drukgroep is hy hof toe omdat daar skuiwergate in wetgewing is wat volgens hom deur die departement gebruik is om nie sy sperdatums en verantwoordelikhede na te kom nie.

Yusuf Cassim, DA-woordvoerder oor onderwys in die Oos-Kaap, sê met die pas waarteen die provinsie werk, gaan dit hom 36 jaar neem om die agterstand in te haal.

Cassim het onlangs skole besoek wat vir opknapping geoormerk is as begunstigdes van die nasionale departement se Sanitation Appropriate for Education (Safe)-veldtog vir die 2019-’20-boekjaar.

Hy is vergesel van Désirée van der Walt, LP en DA-woordvoerder oor onderwys, en ander DA-raadslede.

Hulle het die Emabaleni Combined School en Hoho Senior Secondary School in Dimbaza, die Whiteville Primary School in Ngcamngeni en Mceula Primary School in Whittlesea in die Chris Hani-distrik besoek.

Volgens Cassim word leerlinge by dié skole gedwing om puttoilette sonder enige deure of skeidingsmure te gebruik.

Hy sê daar is nie genoeg toilette vir al die leerlinge nie en in sommige gevalle is die toilette te groot vir van die jonger leerlinge.

“Die toestande is onhigiënies en hou ’n gesondheid- en veiligheidsrisiko vir die leerlinge in. Die haglike toestande van die sanitasiegeriewe by skole wys hoe min die departement vir die leerlinge in sy sorg omgee.

“Die pas waarteen puttoilette vervang word, beteken dat drie generasies nooit sal weet hoe dit voel om sanitasiegeriewe wat op standaard is, te gebruik nie,” sê Cassim.

Vir die huidige boekjaar beoog Safe om 262 skole se geriewe op te knap.

Die DA het onderneem om die saak in die wetgewer en in die parlement te bespreek.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article